Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kommer oor Covid-19-toename hier

$
0
0

Daar was Saterdagaand nie tekens van sosiale afstand by ’n fondsinsamelingsgeleentheid in Ladismith nie. Foto: Deon Meyer

’N “COOLER BOX”-FEES in Ladismith en ’n matriekpartytjie in Knysna was twee van verskeie kleiner partytjies in die Tuinroete Distrik wat tot heelwat Covid-19-infeksies gelei het, sê die Wes-Kaapse Minister van plaaslike regering, omge­wing­sake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bre­­dell.

Volgens Bredell is daar kommer oor die wyse waarop partytjies en ander groot sosiale byeen­komste lei tot verskeie bevestigde Covid-19-infeksies onder diegene wat dit bywoon.

Intussen het die organiseerders van die Rage in Plettenbergbaai gister aangedui dat hulle dié byeenkoms van jongmense afstel nadat hulle nie toestemming by die Tuinroete Distrik kon kry nie.

“Die provinsie doen ’n beroep op die publiek om nie meer geleenthede met groot getalle mense aan te bied of by te woon nie,” sê Bredell.

“Dit is nie nou die tyd om groot partytjies te hou nie, ongeag die rede. As ons ’n veilige, gelukkige feestyd wil hê, is dit van kardinale belang om nou op ons hoede en verantwoordelik te wees.”

Hy het mense aangemoedig om oorvol plekke, beperkte ruimtes en noue kontak te vermy. “Was of reinig jou hande gereeld en dra ’n masker wanneer jy in die openbaar uitgaan, en onthou dat dit jou mond en neus volledig moet bedek.”

So lyk dit by hospitale op Oudtshoorn en elders
Infeksies en hospitalisasies neem tans op Oudts­hoorn – net soos in die res van die Tuinroete Distrik – vinnig toe.

Volgens dr Charles Dreyer, mediese bestuurder van die Oudtshoorn-subdistrik, is daar ’n skerp toename in positiewe Covid-19-opnames in die Oudtshoorn Hospitaal asook ’n skerp styging op Oudtshoorn in die diagnose van pasiënte wat positief toets vir Covid-19.

Die bestuurder van die Mediclinic Klein Karoo, Hannes Stegmann, sê dié hospitaal ervaar ook ’n toename van pasiënte met Covid-19, maar dat die situasie nog onder beheer is.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, word die grootste druk by die George Hospitaal en die Knysna Hospitaal ervaar. Veral die George Hospitaal is onder groot druk met die dat heelparty pasiënte van ander hospitale daarheen oorgeplaas word omdat die hospitaal oor meer gevorderde me­diese hulp beskik. 52 personeellede van die hospitaal was teen die naweek reeds positief vir Covid-19 getoets.

“Die hospitaal is onder geweldige druk en ons probeer plek maak vir soveel as moontlik pasiënte. Ons het reeds drie bykomende afdelings oopgestel om Covid-19-pasiënte te behandel, terwyl ons ook sorg moet bied vir ander roetine-noodgevalle soos traumagevalle,” sê Michael Vonk, uitvoerende hoof van die hospitaal.

Dié hospitaal gebruik daaglikse gemiddeld 2,6 ton suurstof om pasiënte te behandel, vergeleke met die daaglikse gemiddelde van 356 kg / dag in Mei 2020 (pre-Covid-19), en ook meer as tydens die vorige golf (maksimum 2,2 ton / dag).

So kan inwoners strenger maartreëls vir die Tuinroete Distrik voorkom
Intussen is wyd berig dat pres Cyril Ramaphosa aangedui het dat die nasionale regering moontlik vandeesweek sal besluit of die Tuinroete ook soos die Oos-Kaap tot ’n Covid-19-brandpunt verklaar moet word.

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het inwoners van die Tuinroete Distrik versoek om saam te staan om die skerp styging in Covid-19-gevalle in die distrik te help bekamp en so die moontlike strenger inperkingsmaatreëls te voor­kom.

“Dit is diep kommerwekkend om op te let dat daar steeds diegene is wat nie die noodsaak insien om ’n masker te dra as hulle buite hul huise is nie. Ons kan ’n situasie vermy waar strenger maatreëls toegepas word as ons aktief saamwerk om die verspreiding van die virus te bekamp.

“Ons moet alle inwoners van die Tuinroete Distrik versoek om maskers te dra, te ontsmet of hul hande te was, ’n veilige afstand van meer as 1,5 meter te handhaaf en, waar moontlik, groot byeenkomste te vermy, veral in klein ruimtes waar sosiale af­stand ’n uitdaging kan wees.”

Kuier-kuier in Ladismith die moeite werd?
Deon Meyer berig uit Ladismith dat ’n plaaslike motorklub, Dub Worx, wat die naweek ’n fondsinsamelingsfunksie aangebied het, hulle sal moet afvra of die doel die middele geheilig het.

Volgens Meyer is hy as joernalis na die geleent­heid genooi, maar het hy Saterdagaand sy kop geskud en die perseel met ’n kloppende hart verlaat.

Hy skryf verder:
Wat andersins gesonde pret en afleiding aan die jonger geslag van so ’n klein dorpie sou verskaf, laat nou die wenkbroue van die ouer geslag sowel as opvoeders lig.

Die fondse is geoormerk vir skoolskoene en ander produkte vir minderbevoorregte kinders van die gebied vir 2021. Die funksie wat veronderstel was om op die munisipale sportterrein plaas te vind, is na die sportterrein van ’n hoërskool verskuif nadat die Kannaland Munisipaliteit se terrein as gevolg van Covid-19-bepalings nie meer be­skikbaar was nie.

Toegangsbeheer is streng volgens Covid-19-re­gulasies toegepas met sosiale afstand wat gehandhaaf, koors wat gemeet en hande wat ontsmet is. Niemand is sonder ’n masker toegelaat nie.

Binne die terrein is verskeie motors van verskeie fabrikate tentoongestel wat in verskeie afdelings meegeding het. Wenners in verskillende katego­riëe, soos byvoorbeeld Laagste Motor van Grond, Beste enjinklank, ens is aangewys.

Die hoofaantrekkingskrag van die geleentheid was die optrede van die duo Wikkel Wikkel wat die skare nie teleurgestel het nie. Die toeskouers, hoofsaaklik in die ouderdomsgroep 15 tot 35 jaar, het elke oomblik geniet – sonder maskers; die gevare van die virus vergete.

In ’n inskrywing op Facebook na die byeenkoms skryf ’n leerkrag, Lesley-Ann Volminck, onder meer: Ek weier hulle my klas Maandag… So onverantwoordelik kan ’n mens nie wees nie. Haar inskrywing is wyd gedeel.

Die vraag vir Dub Worx bly: Het dié doel die middele geheilig? (Deur Liesel le Roux)

The post Kommer oor Covid-19-toename hier appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434