Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux
DIE goedkeuring van die 2013/14-begroting, aansuiweringsbegroting en GOP van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit deur die ANC/Icosa/ NPP-koalisie was onwettig, het die woordvoerder van die DA/Cope-koalisie, Chris MacPherson, na verlede Donderdag se spesiale raadsvergadering gesê.
Die vergadering kon in teenstelling met twee vorige mislukte raadsvergaderings voortgaan nadat ’n DA-raadslid, Peter Roberts, dit bygewoon en so gesorg het vir ’n kworum van 13 raadslede. Hoewel hy ’n teenvoorstel gemaak het, het hy geen sekondant gekry nie en is al die items op die agenda goedgekeur.
Volgens MacPherson stel Artikel 160.3 van die Grondwet dit duidelik dat munisipale begrotings net goedgekeur kan word met ’n meerderheid van die aantal raadslede en nie die meerderheid van die wat ’n vergadering bywoon nie. “In Oudtshoorn is daar 25 raadslede waarvan ten minste 13 vir die begroting moet stem.”
Die DA/Cope-koalisie het egter in ’n persverklaring aangedui dat hulle nie die aanvaarding van die begroting gaan betwis nie omdat hulle nie die belastingbetalers van Oudtshoorn verder wil belas met hofonkoste nie.
“Die DA/Cope-koukus besef egter dat die goedkeuring van die minderheidsbegroting nou gaan lei na ongekende besteding en voorspel dat daar in die volgende maande nie genoegsame fondse gaan wees om ons verpligtinge na te kan kom nie.
“Ons weet reeds dat die R27 miljoen wat ‘geleen’ is by die bank klaar gespandeer is en nié op die kapitaalprojekte soos goedgekeur is nie. Ons verpligte bydrae van miljoene rande vir die Blossomswaterprojek is ook nie nagekom nie. Elkeen wat aandadig was, sal self verantwoording moet doen aan die kiesers van Oudtshoorn.”
Volgens die verklaring is Roberts se lidmaatskap van die koukus tydelik opgeskort omdat hy deur sy bywoning van die vergadering ’n koukusbesluit verontagsaam het. Die aangeleentheid is na die provinsiale voorsitter van die DA verwys vir verdere hantering.
Roberts het op sy beurt in ’n persverklaring gesê hy het besluit om die vergadering by te woon omdat hy na vore wil kom oor die “Nel-skikking” verlede jaar. Roberts verskil klaarblyklik met die DA-koukus oor ’n interne besluit wat verlede jaar geneem is rondom die betaling van sekere regskoste van raadsheer Pierre Nel. Die besluit is egter nooit ten uitvoer gebring nie.
’n Dissiplinêre komitee is by Donderdag se vergadering aangewys om dié sogenaamde skikking te ondersoek, bestaande uit ANC-raadslede Charlie Wagenaar en Nondumiso Gunguluza en Icosa-raadslid Vlancio Donson. Na verneem word, moet so ’n komitee egter die samestelling van die raad weerspieël en mag dit daarom moontlik nie wettig wees nie.
Roberts het op navraag gesê hy het geen plan om na enige ander party oor te loop nie. “Ek is en bly ’n trotse DA-raadslid,” het hy gesê.
• Die ANC/Icosa/NPP-koalisie was tydens die vergadering duidelik verheug oor Roberts se teenwoordigheid wat hulle die geleentheid gebied het om die begroting goed te keur. Roberts is deur burgemeester Gordon April geloof vir sy besluit om die vergadering by te woon terwyl speaker John Stoffels hom na die vergadering ’n handdruk gaan gee het.
Intussen het Stoffels tydens die vergadering aangedui dat DA/Cope-lede wat drie keer na mekaar nie raadsvergaderings bygewoon het nie of dit “onwettig” verlaat het, geskors gaan word. Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het gesê dat hy ’n skrywe in die verband ontvang het, maar dat ’n raadslid slegs geskors kan word as die raad die regte prosedure volg, wat onder meer ’n raadsbesluit insluit.
April het na die vergadering in ’n persverklaring gesê inwoners kan nou na die goedkeuring van die begroting en GOP beter dienslewering verwag. Die GOP-dokument is ter insae beskikbaar op die munisipale webblad, by munisipale betaalpunte, biblioteke en munisipale satellietkantore.