Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn se NPP-speaker, mnr John Stoffels, se aansoek om appèl teen ’n uitspraak wat sy optrede tydens raadsvergaderings as onwettig en kwaadwillig bestempel het, is Maandag die tweede keer met koste deur ’n hof van die hand gewys.
Ten spyte hiervan is die speaker nou van plan om hom na die konstitusionele hof te wend. Hofstukke in dié verband sal spoedig ingedien word.
Verskeie inwoners het dié week hul skok en verstomming oor dié optrede uitgespreek wat die huidige situasie in die Groter Oudtshoorn-raad nog langer sal uitrek.
Appèlregters JA Lewis en AJA Mathopo het Maandag in die Appèlhof op Bloemfontein Stoffels se aansoek om verlof tot appèl teen ’n vroeëre uitspraak van regter Anton Schippers van die hand gewys. Schippers het verlede jaar in die Kaapse Hoë Hof bevind dat Stoffels tydens raadsvergaderings verhinder het dat mosies van wantroue in die burgemeester, onder-burgemeester en speaker voor die raad dien en ook dat hy twee DA-raadslede onwettig geskors het.
Schippers het ook einde November self ’n aansoek van Stoffels tot verlof om appèl met koste van die hand gewys.
Die twee DA-raadslede, Pierre Nel en Ben van Wyk, word sedert verlede jaar deur Stoffels verhinder om in raadsvergaderings te stem, wat tot gevolg het dat die DA-koalisie, die demokraties verkose meerderheid in die raad, nog nie beheer oor die Groter Oudtshoorn-raad kon oorneem nie.
Dié optrede en ook Stoffels se appèlaansoeke het intussen heelwat “tyd” vir die ANC-koalisie gekoop, wat sedert ’n tussenverkiesing in Augustus 2013 die minderheid in die raad is, om hulle aan beheer te hou. Die beoogde appèl na die konstitusionele hof sal nog “tyd” vir dié koalisie koop.
Intussen het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, mnr Anton Bredell gesê hy glo die reg en die demokrasie sal uiteindelik op Oudtshoorn seëvier ten spyte van die talle regsprosesse wat die speaker volg en die tyd wat dit duur. Bredell het die Appèlhofaansoek teengestaan.
“Ongelukkig duur munisipale en regsprosesse lank, maar die Appèlhofuitspraak bevestig dat al die raadslede op Oudtshoorn stemreg het.”
Bredell het ook sy kommer uitgespreek oor die aanwending van die belastingbetalers van die Groter Oudtshoorn se geld deur die huidige minderheidskoalisie. “Raadslede sal moet besef dat hulle uiteindelik aanspreeklik gehou sal word vir uitgawes,” het hy gesê.