Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5424

Man agter Faan se Trein

$
0
0
Koos Roets

Koos Roets, die man agter die suksesvolle rolprent Faan se Trein, en sy metgesel, Eunice Bauermeister.

Deur Liesel le Roux

BAIE noem Faan se Trein die beste Afrikaanse rolprent nog en ’n visuele meesterstuk. Die rolprent het nie net byna skoonskip gemaak by kykNET se Silwerskerm Filmfees deur nege van die elf toekennings te wen nie, maar Suid-Afrikaners stroom daarna, net soos mense dwarsdeur Suid-Afrika na Pieter Fourie se oorspronklike verhoogstuk gestroom het.

Hy is die heel dankbaarste dat so baie mense na die rolprent gaan kyk, sê die regisseur Koos Roets (71), waar hy in Café Brûlé op Oudtshoorn met Die Hoorn gesels.

Roets is die oggend op Oudtshoorn vir die verfilming van ’n toneel vir nog ’n opwindende Afrikaanse rolprent, Abraham, van Jans Rautenbach. Roets is die man in beheer van die fotografie van Abraham. Rautenbach verwys na hom as die “beeldmeester”, ’n beskrywing wat inderdaad reg laat geskied aan Roets se kreatiewe visuele vaardigheid.

Hy is nou 51 jaar in die bedryf, vertel dié boorling van Prieska. Die afgelope vier jaar woon hy op Klaarstroom, waar hy en sy metgesel, Eunice Bauermeister, pas ’n huis gekoop het wat hulle nou gaan restoureer.

Bauermeister doen navorsingwerk vir dokumentêre rolprente.

Hy is baie gelukkig in die Karoo, sê Roets wie se verhouding met Klaarstroom begin het toe hy Jans Rautenbach se Pappa Lap in 1969 daar verfilm en in 1977 die rolprent Kootjie Emmer daar gemaak het. Groot dele van Katinka Heyns se Paljas het Roets ook daar verfilm.

“Toe ek Faan se Trein wou maak, het ek weer kom kyk. Ek was eintlik altyd van plan om dit daar te skiet. En toe het ek besluit om te bly.”

Om die rolprent te kon skiet op ’n plek waar hy woon en wat hy ken, het baie voordele gehad. “Ek het self elke stoel, elke kar of windpomp vir die film gekry!”

Roets sê hy het van die begin af die potensiaal in Faan se Trein gesien en wou die rolprent al baie jare lank maak. “Maar miskien was dit die voorsienigheid dat alles nou eers bymekaargekom het. Ek dink Pieter Fourie se stuk is van die beste werk in Afrikaans. Ek dink elke mens verstaan karakters soos Faan en ou Frik.”

Die Karoo het in elk geval ’n manier om aan jou af te gee, sê Roets. Ná die voltooing van Faan se Trein het hy die eerste keer ervaar dat niemand van die filmspan en akteurs wou huis toe gaan nie.

Oor die keuse van Willie Esterhuizen in die rol van Faan het mense aanvanklik baie vrae gehad, vertel Roets. “Ons het seker 60 akteurs getoets, maar nie een het reg gelyk nie. Ek het egter iets in Willie gesien en ook ’n karakter onthou wat hy 30 jaar gelede in Koöperasiestories gespeel het. Niemand het my gesteun nie, net Katinka (Heyns) het gesê: Go for it. In Faan se Trein is Willie net twee minute op die doek, dan vergeet jy al die rolle wat hy voorheen gespeel het.”

Vir Roets is daar geen sprake van aftree of terugsit en ontspan nie. Behalwe vir sy betrokkenheid by Abraham is hy tans besig om vier dokumentêre rolprent vir KykNET te maak oor die goue tydperk van die volstruis.

Lees ’n mens wat ander sê oor Koos Roets, lees jy woorde soos “formidabel” en ’n “ikoon” in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

Dit is hy inderdaad.

Maar op ’n Donderdagoggend op Oudtshoorn is hy slegs ’n vriendelike, nederige man met nog baie drome in sy oë.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5424