Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Magdalene Phillips nou nuwe waarnemende verkeershoof

$
0
0

SY woon al byna haar lewe lank op Oudtshoorn en glo dat die werk wat sy en haar kollegas doen nie net inwoners se lewens kan red nie, maar ook op ’n positiewe manier kan verander.

Magdalene Phillips, eerste provinsiale inspekteur en nou ook die waarnemende provinsiale verkeershoof op Oudtshoorn, sê om ’n uniform te dra is in haar bloed. Byna al haar familielede is of was in die polisiediens. “Ek het net ’n bietjie afgewyk en ’n ander uniform aangetrek,” skerts sy.

Die 40-jarige enkelma van ’n sewejarige seuntjie is oorspronklik van Willowmore in die Oos-Kaap, maar haar gesin het Oudtshoorn toe getrek toe sy nog jonk was. Sy het in 1997 aan die Hoërskool Oudts­hoorn gematrikuleer.

Daarna het sy bestuursonderneming by die Suid-Kaap Kollege Oudtshoorn gaan studeer. Voordat sy by die provinsiale verkeersdiens in 2003 aangesluit het, was sy ’n bestuurder by die Queen’s Hotel.

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis, en Phillips is vanjaar ná Gerald Bekker se aftrede aangestel as waarnemende provinsiale verkeershoof tot verdere kennisgewing.

“Ek is al my lewe lank in die verkeersafdeling en ek het ’n liefde vir my werk. Ek glo ons beroep is een wat ’n verskil kan maak – ons is meer as net ’n ‘spietkop’ in ’n blou baadjie wat boetes skryf. Ons is daar vir veiligheid en om mense se lewens te red,” maan Phillips.

Volgens Phillips is sy en haar span doelgerig, en streef hulle in hul langtermynbeplanning om padveiligheid te bevorder en aan te moedig onder inwo­ners.

Sy herinner inwoners ook dat provinsiale verkeer nie net vlakke van verkeer in en om die dorp moniteer nie, maar hulle vat ook hande met ander wetstoepassingsliggame om die gemeenskap verder te beveilig. “Dit is eenvoudig; ons moet saamwerk om almal veilig te hou,” sê sy.

Phillips sê buiten haar seuntjie wat haar aan die gang hou, geniet sy dit om te draf en te oefen.

“Dis ’n manier vir my om afleiding van die werk te kry. Ek glo daarin dat mens ’n gebalanseerde lewe moet hê.” sê sy.

Phillips studeer tans ook deeltyds vir ’n graad in Polisiepraktyk. (Deur Stefan Skapie Goosen)

The post Magdalene Phillips nou nuwe waarnemende verkeershoof appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434