Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Help oorblyhuis vir kankerpasiënte

$
0
0

NIE-BEDERFBARE artikels vir die Irma Bruschi Tussenhuis op George, waar kankerpasiënte van Oudtshoorn en ander buurdorpe tydens bestraling- en chemoterapiebehandeling vir tot ses weke lank kan oorbly, kan nou in ’n winkeltrollie by die Oudtshoorn Spar geplaas word. Ander supermarkte is ook genader om by die projek betrokke te raak.

Met dié gebaar hoop ’n bekende inwoner en oud-raadslid van Oudts-hoorn, Japie Coetzee, om ’n bydrae te lewer tot die voortbestaan van dié huis wat al ’n groot rol in menige inwoner van die Klein Karoo se lewe gespeel het.

Die daaglikse uitgawes en ’n gebrek aan befondsing maak dit vir dié huis, by baie bekend as die kankerhuis op George, tans ’n uitdaging om sy deure oop te hou.

Volgens Coetzee sal inwoners daagliks weke lank heen en weer na George vervoer moet word indien die huis sou sluit.
Coetzee tree tans op as Oudtshoorn se verteen­woordiger van dié huis. Hy sê hy het betrokke geraak uit dank-baarheid oor die liefde wat sy vrou, Jane, daar ervaar het en omdat kanker ook haar lewensdraadjie verlede jaar kortgeknip het.

“Ek probeer deur my betrokkenheid verseker dat die huis, wat nou ’n oorlewingstryd voer, kan voortbestaan.

“Pasiënte wat kankerbehandeling op George moet ondergaan, kan by die huis inwoon. Hier ontvang hulle goeie etes en word daagliks na en van die onkologie-afdeling by die hospitaal vervoer. Angela versorg die pa-siënte met soveel liefde dat dit vir hulle ’n huis weg van die huis word.”

Mense wat ’n finansiële bydrae wil lewer om die huis te help om sy deure oop te hou, kan ’n oorbetaling doen na ABSA, reknr 1007511287, takkode 632005 met u naam as verwysing.

Coetzee sê hy is ook bereid om bydraes vir die huis te gaan oplaai by mense wat ’n skenking wil doen. Sy kontaknommer is 082 598 7273.

Hy het ook ’n versoek aan ander supermarkte op die dorp gerig om trollies in die winkels vir skenkings beskikbaar te stel, en wag nog op terugvoer.

The post Help oorblyhuis vir kankerpasiënte appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434