KANNALAND se opvoeders en ander werknemers van skole en opvoedkundige instellings was Maandag gretig om die Johnson & Johnson-inenting teen Covid-19 te ontvang.
Dié inentingsveldtog het onder die wakende oog van verteenwoordigers van die Eden Sentraal-Karoodis- trikskantoor (Kring 1) in die LO-Saal van die Hoërskool Ladismith, plaasgevind.
“Moet julle nie aan fopnuus te steur nie en gryp die geleentheid aan om ingeënt te word!”
Dit was die boodskap van Vera Taute en Zaandria Moses, werknemers by die skoolkoshuis van Ladismith Sekondêr, wat Maandag ingeënt is.
Volgens die twee vroue ervaar hulle na die inenting ’n groot mate van gemoedsrus.
Stanley Weitz, opvoeder verbonde aan die Laerskool Towerkop wat ook Maandag ingeënt is, het gesê hy het nie geskroom om vir die inenting te gaan toe die geleentheid dit voorgedoen het nie.
Hy sê hy glo dat hy as opvoeder ’n verantwoordelikheid het teenoor sy leerders.
Volgens Leaticia Pietersen- Pienaar, leerderondersteunings-dien-ste-adviseur van Kring 1, is die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), se doelwit om al die opvoeders en ander werknemers by opvoedkundige instansies binne 30 dae in te ent.
Suster Toppa Strydom van die Kannaland Gesondheidsdienste sê die Johnson & Johnson-entstof toon ’n hoë persentasie van beskerming teen opname in ’n intensiewe sorgeenheid van ’n hospitaal en die dood. (Deur Deon Meyer)
The post Kannaland-opvoeders ontvang hul Covid-19-inentings appeared first on Die Hoorn.