Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5424

DA na hof oor 11 ‘verwyder’ word

$
0
0

Deur Liesel le Roux

DIE DA gaan die verwydering van 11 raadslede van die Groter Oudtshoorn in die Kaapse Hoë Hof beveg.
Theuns Botha, die DA se onderleier in die Wes-Kaap, het Dinsdag gesê die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het nie vakatures in die Oudtshoorn-raad verklaar nie omdat hy hulle in kennis gestel het dat die DA die verwydering opponeer. Die DA gaan die hof nader vir ’n interdik teen die verwydering van die 11 raadslede.


Die provinsiale verkiesingsbeampte, Courtney Sampson, het gesê die munisipale bestuurder, Ronnie Lottering, het 11 vakatures in die raad verklaar en dit aan die OVK oorgedra, maar hy het bevestig dat die OVK eers wag vir ’n hofbeslissing omdat die DA die verwydering opponeer.

Die 11 raadslede – 10 van die DA asook die een Cope-raadslid – is verlede Vrydag “verwyder” nadat ’n raadskomitee dit aanbeveel het. Die raadskomitee, bestaande uit raadslede Charlie Wagenaar en Nondumisa Gunguluza (albei ANC) en Vlancio Donson (Icosa), het bevind dat die 11 raadslede afwesig was van drie opeenvolgende raadsvergadering en daarom ingevolge wetgewing verwyder moet word.

Intussen wil dit voorkom of die korrekte prosedure nie met die “verwydering” gevolg is nie.
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het gesê dat ’n raadslid slegs geskors kan word as die raad die regte prosedure volg, wat onder meer ’n raadsbesluit insluit.

Daar is ook ’n Hoë Hof-uitspraak wat bepaal dat net die minister van plaaslike regering ’n raadslid mag verwyder.
Die proses sluit onder meer die volgende stappe in: Die aanbeveling vir die verwydering van ’n raadslid moet deur ’n komitee verteenwoordigend van die samestelling van die raad gedoen word. Dus moes die DA, die party met die meeste raadslede, ook op die komitee verteenwoordig gewees het. Aangeklaagdes moet die geleentheid gegun word om op klagtes te reageer. Die raad moet dan ’n besluit neem op grond van die aanbeveling van die komitee en die besluit as ’n aanbeveling aan die minister van plaaslike regering stuur. Hy moet die finale besluit neem.

• Botha het die ANC verlede week skerp gekritiseer en gesê die party “se weiering om Oudtshoorn aan die meerderheidsregering te oorhandig hou ’n besliste bedreiging in vir die demokrasie in Suid-Afrika.

“In ’n behoorlik funksionerende demokrasie sal die partye wat verslaan is, in hierdie geval die ANC/NPP/Icosa-alliansie, plek gemaak het vir die meerderheidsparty om beheer oor te neem. Die ANC het egter oorgegaan tot verskeie regsaksies en onwettige optrede om DA-oorname te frustreer en uit te stel.”

Botha sê die DA sal wel uiteindelik beheer van die raad oorneem nadat die ANC alle opsies uitgeput het dit te voorkom.

“Hierdie optrede van die ANC het nou tot vrugtelose uitgawes en die verkwisting van belastingbetalers se geld gelei.”
Hy het ’n beroep gedoen op die ANC-sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en pres Jacob Zuma om hul uit te spreek oor die optrede van die Oudtshoorn-ANC.

Botha het Dinsdag ook gereageer op inwoners wat die DA kwalik neem vir die situasie op Oudtshoorn. “Die gemors op Oudtshoorn is nie die DA se skuld nie, maar die van die ANC. As iemand vir my ’n wettige roete kan gee waardeur ons beheer kan neem, sal ek dit graag wil hoor en doen.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5424