DIE saak teen ’n vrou en ’n man van Gauteng wat tereg staan op drie klagtes van bedrog, kon nie verlede week in die Oudtshoorn Streekhof voortgesit word nie, omdat die man wat op borg is, nie vanaf Johannesburg na Oudtshoorn kon kom nie.
Nomvula Ziqubu (60) van Orlando-Wes en Webster Ndlovu van Johannesburg word daarvan aangekla dat hulle in Oktober 2019 by drie geleenthede op Beaufort-Wes en Oudtshoorn bedrae van onderskeidelik R80 000, R18 000 en R85 000 uit die Absa-bankrekening van Francina Moeketsi en/of Ashwell Johnson wou onttrek.
Ziqubu het glo voorgegee dat sy Moeketsi is.
Streeklanddros Sylvia Mandla het haar kommer oor Ndlovu se afwesigheid uitgespreek omdat mense verbied word om vanuit Gauteng te reis vir ontspanning en gesê dat ’n hofsaak beslis nie ontspanning is nie. ’n Lasbrief wat oorgehou word, is nietemin op versoek van Ndlovu se regsverteenwoordiger gemagtig.
Ndlovu se borgtog van R5 000 is voorlopig aan die staat verbeurd verklaar.
Die saak is tot 28 September uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)
The post Twee Gautengers hier in hof appeared first on Die Hoorn.