
By ’n spesiale byeenkoms Sondagmiddag op die ongelukstoneel waar Zander van der Zandt gesterf het, was van links sy pa, ao Christo van der Zandt, Yolanda van der Westhuizen (Christo se verloofde), haar dogter Minette en Zander se vriendin, Ashleigh Wright. Zander het tydens sy ongeluk ’n soortgelyke Superman-hempie as die van Ashleigh gedra.
Deur Liesel le Roux
’N GEDENKDIENS vir ’n jong Oudtshoorniet wat verlede week tragies in ’n motorfietsongeluk gesterf het, Zander van der Zandt (16), word vandag op sy pa, ao Christo van der Zandt, se verjaarsdag gehou.
Die gedenkdiens vind om 12:00 in die NG Kerk-Suid op die dorp plaas. Zander sal privaat veras word.
Zander, ’n graad 11-leerder, kranige hoogspringatleet en eerstespanrugbyspeler van die Hoërskool Oudtshoorn, is verlede Woensdagaand dood nadat die Bigboy 200 cc-motorfiets waarop hy gery het, met ’n Toyota Fortuner in Baron van Reedestraat gebots het.
Die ongeluk het omstreeks 20:40 plaasgevind nadat die Fortuner uit ’n parkeerplek voor Paljas Restaurant weggetrek en na bewering ’n U-draai gemaak het. Zander het uit die dorp se rigting gery gekom. Die impak van die botsing het Zander van sy motorfiets geslinger. Sy motorfietshelmet het sowat 50 meter verder te lande gekom.
Noodpersoneel op die toneel se pogings om sy lewe te red en dokters se herhaaldelike pogings by die Oudtshoorn Hospitaal om hom by te bring, was onsuksesvol. Volgens ’n polisieverklaring is hy omstreeks 22:00 dood.
Zander se dood het skokgolwe deur Oudtshoorn en die Suid-Kaap gestuur. ’n Groot groep inwoners het Sondag oor die middaguur op die ongelukstoneel byeengekom nadat die Garden Route Bikers die toneel as deel van ’n spesiale gedenkrit vir gestorwe motorfietsryers besoek het.
Zander se bedroefde pa en sy verloofde, Yolanda van der Westhuizen, asook Zander se vriendin, Ashleigh Wright, het almal saam met die motorfietsoptog gery. Ashleigh het ’n wit hempie met ’n supermanteken op gedra, soortgelyk aan die hemp wat Zander aangehad het toe hy gesterf het.
Inwoners het sedert verlede Donderdagoggend blomme, kruise, briefies en kerse by wrakstukke van Zander se motorfiets op die sypaadjie voor Paljas geplaas. Talle mense het ook tydens Sondag se byeenkoms blomme gebring.
Zander se ma, Christa, is ’n militêre offisier in Bloemfontein. Sy het die week saam met Zander se oupa, Chris Smit, van Bloemfontein na Oudtshoorn gereis vir die gedenkdiens. Zander en sy broer, Jean (24), en sou die afgelope naweek by sy ma in Bloemfontein gaan kuier het.
• ’n Saak van strafbare manslag is na die ongeluk deur die Oudtshoorn Polisie geopen.
Een van die insittendes van die Fortuner, ’n sigbaar erg geskokte vrou, het op die toneel gesê hulle is van Durban.
Volgens haar het hulle die dag van Mosselbaai na Oudtshoorn gery om die dorp te besoek en die aand by Paljas Restaurant geëet.
Verskeie mense het vandeesweek ’n beroep op mense gedoen om nie enige van die betrokkenes by die ongeluk te veroordeel vir wat gebeur het nie, maar die polisie-ondersoek sy gang te laat gaan.
“Dis nie nou die tyd vir verwyte nie, maar van vertroosting en genade,” het sy oupa (Chris Smit) op Die Hoorn se Facebook-blad geskryf.
• Nog ’n botsing tussen ’n motor en ’n motorfiets in Baron van Reedestraat het Dinsdagaand op die hoek met Victoriastraat voorgekom.
Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, het die bestuurder van die Hyundai, ’n besoeker van Swede, na bewering nie die motorfiets sien aankom nie. Hy wou die kruising oorsteek toe die motorfiets en motor mekaar getref het. Niemand is ernstig beseer nie en die Polisie ondersoek geen saak nie.