Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

David Piedt onthou 20 jaar se KKNK

$
0
0

Deur Garnett Wicomb

DIE besoeke van oud-presidente Nelson Mandela en Thabo Mbeki aan die KKNK is twee van die hoogtepunte in die 20-jarige bestaan van die fees wat hom altyd sal bybly, sê David Piedt, ’n voormalige direksievoorsitter van die Absa KKNK, in ’n terugblik op die fees.

“Dit was moeilik om Madiba hier te kry, maar danksy mense soos Franklin Sonn en Willie Esterhuizen, wat gehelp het om my skrywes by Madiba te kry, het ons dit reggekry. Hierdie pogings het eers in 2001 ’n werklikheid geword nadat hy herhaalde skrywes aan Madiba gerig het.”

Volgens Piedt het dit in 2004 ietwat makliker gegaan om Mbeki hier te kry.

Piedt sê hy onthou Mbeki se woorde, “Ek is nou ’n Kannalander”, nog soos gister, asook die opskrif in Die Burger van 5 April 2004: “Mbeki neem KKNK op Horings.” Mbeki het die dag selfs Sarie Marais gesing.

“Dit was chaos vir Mbeki se veiligheidspersoneel toe hy van sy feesskedule afgewyk en nonchalant deur die strate van Oudtshoorn gestap het.”

Piedt, wat van dag een af 20 jaar gelede by die KKNK betrokke was, was tussen 2001 en 2005 voorsitter van die direksie. Hy onthou hoedat Nic Barrow hom en wyle Reggie Oliphant in 1995 genooi het na ’n vergadering en die idee van ’n kunstefees vir Oudtshoorn op die tafel geplaas het.

“Een van die voorstelle vir ’n naam vir die fees was die Langenhovenfees, maar ons was nie daarvoor te vinde nie. Nic Barrow het baie diplomaties verduidelik dat dit ’n fees moet wees wat alle Afrikaanssprekendes moes insluit en nie een wat deur een groep geëien word nie, en daarmee het ons saamgestem.”

Piedt sê hy het saam met die legendariese Pieter Fourie op die eerste direksie van die fees gedien en baie by dié kunskenner geleer.

Volgens hom was die beginjare van sy betrokkenheid by die fees egter nie altyd lekker nie.

“Baie in die gemeenskap waarvan ek lid is, het my betrokkenheid by die fees met agterdog bejeën, maar soos ons deur die groeijare gegaan en meer mense betrokke geraak het, het die agterdog verminder.”

Piedt sê hy het die KKNK gesien as die ideale voertuig wat die onderskeie gemeenskappe met hul verdeelde verlede moes versoen.

“Afrikaans is my taal, my onvervreemde kultuurgoed waarop ek vandag baie trots is. Die taal behoort ongedwonge aan die mense wat dit praat.”

Volgens Piedt was die KKNK gerieflik geposioneer om alles in terme van versoening te doen, maar is dit nie nasionaal so goed ontvang nie, juis as gevolg van sy verlede.

Hy kan vandag egter met trots sê dat die KKNK, as moeder van feeste in Suid-Afrika, steeds op alle gebiede van die kunste ’n gesaghebbende leier is.

“Ek is daarvan oortuig dat die KKNK ’n ontsettende bydrae gelewer het tot die bevordering van beter verhoudinge tussen gemeenskappe.”

Hy het ’n spesiale woord van dank vir die Afrikaanse sakegemeenskap wat visionêr was om van die begin af in die fees te belê; in besonder aan Naspers met Ton Vosloo en Koos Bekker wat die saadfondse beskikbaar gemaak het.

Piedt sê hy onthou ook die bydrae en steun oor die jare van die Wes-Kaapse regering, ongeag watter party aan die bewind was. “Premiers soos Pieter Marais, Marthinus van Schalkwyk en Ebrahim Rasool het die fees ten volle onderskryf en was instrumenteel in die skepping van ’n nuwe samelewing.”

“Ook die plaaslike munisipaliteit verdien lof vir sy bydrae om die fees te bring tot waar dit vandag staan.

Hy het hulde gebring aan al die vorige direksievoorsitters, Nic Barrow, Jans Rautenbach, Russell Botman en nou Laetitia van Dyk. ”Ook die inklusiwiteit van die direksie oor die jare was betekenisvol.”

Hy vergeet ook nie die bydrae van steunpilare soos Rhodé Snyman, en die uitvoerende hoofde, Karen Meiring, Pieter Fourie en Brett Pyper nie, asook die talle mense agter die skerms wat die fees elke jaar stiptelik staangemaak het.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434