Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Hieroor was DA-raadslede nie by vergadering, sê Macpherson

$
0
0

DIE DA het nie vanoggend se raadsvergadering bygewoon nie, omdat die party nie deel wou wees van ‘n onwettige vergadering nie, sê die uitgaande burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson (DA). “Die opposisie se agenda het aangedui dat hulle die munisipale bestuurder gaan vervang en direkteure gaan verander wat teenstrydig is met die hofbevel wat regter Erasmus gelewer het.”

Macpherson het gereageer op ‘n vraag waarom die DA se 12 raadslede nie vanoggend by ‘n raadsvergadering was waar 13 raadslede van die ANC, Icosa, Sarco en die EFF mosies van wantroue in Macpherson en die DA-speaker, Julia le Roux, ingestel het en daarna vir Vlancio Donson en Barbara Owen van Icosa in hul plekke verkies het nie. Le Roux is tans ongesteld.

Macpherson het verwys na die uitspraak van regter Nathan Erasmus verlede Vrydag (10 September) in die Hooggeregshof in Thembalethu dat die status quo by die munisipaliteit moet geld ten opsigte van poste van die munisipale bestuurder en direkteure totdat hy uitspraak gegee het oor ‘n hersieningsaansoek van die munisipaliteit oor die kwessie. Die hersieningsaansoek sal waarskynlik in Oktober voor die Hooggeregshof dien.

Macpherson sê die DA glo die kiesers sal nou sien wat gebeur as die stert die hond swaai. “Om te stem vir klein partye gaan ons dorp vernietig soos vyf jaar gelede. Ons is demokrate en aanvaar die meerderheid se besluit om die enigste twee lede van ICOSA te verkies as burgemeester en speaker.  Die ANC is regtig desperaat om nou net voor die verkiesing mag oor te neem en die vraag is hoekom.

“Weet net dat Oudtshoorn se kiesers nie sal toelaat dat die munisipaliteit weer soos onder hulle vorige beheer geplunder word nie en ons met miljoene rande se skuld gelos het. Ons mense moet self op 1 November oordeel. As uitgaande burgemeester glo ek Oudtshoorn verdien net die beste. Weet net ons sal dit kan laat gebeur.”

The post Hieroor was DA-raadslede nie by vergadering, sê Macpherson appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434