INWONERS van verskeie informele nedersettings in die Groter Oudtshoorn het Sondag by ’n vergadering van leiers van dié gemeenskappe besluit om saam te werk en nie hul “stryd” teen wat hulle “verdrukking” deur die Oudtshoorn Munisipaliteit noem, te staak nie.
Inwoners is gekant teen die toekenning van ’n tender vir die verskaffing en onderhoud van chemiese toilette in informele nedersettings aan Bidvest en nie weer aan die vorige verskaffer, Top Loos, nie.
Zyna Carelse-Nduma, inwoner van Hopeville, het gesê dat dié gemeenskappe nie die nuwe kontrakteur, Bidvest, of hul toilette en dienste sal aanvaar nie.
“Die munisipaliteit het nooit met ons gepraat oor die tender wat uitgesit is nie.”
Volgens Carelse-Nduma is die gehalte en grootte van die toilette onder meer nie op standaard nie.
“As ons nou ingee, gaan ons in die toekoms ook tevrede moet wees met byvoorbeeld swak dienste of swak kwaliteit behuising. Hierdie is ’n kwessie van menswaardigheid. Ons is ook mense. Ons verdien ook om soos mense behandel te word,” het sy passievol gesê, ondersteun deur die leiers van die verskeie gemeenskappe rondom haar.
By die vergadering is besluit dat daar eers met die Oudtshoorn Polisie vergader sal word voordat protesoptrede voortgaan.
Die gemeenskappe beoog verdere protesaksie in komende weke indien die Munisipaliteit nie hul griewe aanspreek nie.
Maandag het inwoners van onder meer Black Joint en GG Kamp die span van Top Loos, wat die verskaffing en onderhoud van chemiese toilette vir meer as 10 jaar behartig het, gekeer om hul toilette te verwyder.
Frank Bergh, woordvoerder van die GG Kamp-gemeenskap, het gesê Top Loos het goeie diens gelewer, en hulle sal hierdie maatskappy wil behou.
“Ons waardeer Top Loos se diens, en ons as gemeenskap wil eers ’n ooreenkoms met die munisipaliteit bereik voordat enige verdere dienste of toilette gelewer of verwyder word. Niemand sal hier toegelaat word voor dit nie. Ons stop enige indringers hier,” het hy gesê.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die polisie nie in hierdie stadium enige formele aansoeke vir optogte of protesoptrede ontvang nie.
“Die polisie sal reageer as daar optrede is en dit moniteer. As daar enige oortredings begaan word, sal ons optree,” het hy gesê.
Navrae is ook aan die Oudtshoorn Munisipaliteit en Bidvest gerig, onder meer oor die moontlike protesoptrede.
Nie die munisipaliteit of Bidvest het egter teen druktyd op navrae wat aan hulle gestuur is, gereageer nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
The post Chemiese toilet-kwessie spoel voort appeared first on Die Hoorn.