Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Twee konserte onder die sterre vir Oudtshoorn!

$
0
0

DIE KKNK bied einde Oktober en weer einde November twee besonderse konserte onder die Klein Karoo se sterre net buite Oudtshoorn aan.

Op Vrydag 29 en Saterdag 30 Oktober is Dowwe Dolla: Nou of nooit! by die wynkelder Karusa te sien en op 25 en 26 November is Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo-Kersfees by die Surval Boutique Olive Estate aan die beurt.

Karusa en Surval is beide in die pragtige Schoemanshoek net buite Oudtshoorn geleë, digby die pad wat na die bekende Kango Grotte lei.

Gehore regoor die land was gaande oor De Villiers en Meyer se vorige twee verhoogproduksies – Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte.

Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, bestempel dié produksie as ’n “spesiale musiek- en woordreis vir die Kerstyd”.

De Villiers skuif agter die klawers in terwyl Meyer by hom op die verhoog aansluit.

“Uiteindelik kan ons weer optree. Boonop kan ons dit doen onder die sterre in die Karoo. Kom deel die gees van Kersfees met ons – dit gaan ’n voorreg wees om weer ’n gehoor te sien,” sê De Villiers.

Dowwe Dolla is op haar beurt in Oktober die laaste keer op ’n Oudtshoorn-verhoog te sien. Dowwe Dolla: Nou of nooit! is Margit Meyer-Rödenbeck se laaste vertoning met dié karakter, wat gehore vir langer as 20 jaar laat skaterlag het en altyd ’n topverkoper by die KKNK was.

Coenraad Rall sluit op klavier by haar aan vir twee onvergeetlike optredes, sê Theart.

Volgens Meyer-Rödenbeck is Dowwe Dolla as’t ware op die verhoë van die KKNK gebore en getoë. “Dit sou net só verkeerd wees om met haar uittrede aan die einde van die jaar nié ’n draai in die Klein Karoo te maak om koebaai te sê nie.

“Dit is vir my hartseer om te dink dis haar laaste stiletto-trippel, want Oudtshoorn en sy mense was nog altyd net goed vir Dolla.”

’n Beperkte aantal kaartjies is vir albei konserte by Quicket beskikbaar. Kaartjies vir Karoo-Kersfees kos R250 per persoon en kaartjies vir Dowwe Dolla: Nou of nooit kos R150 per persoon. Dowwe Dolla het ’n ouderdomsbeperking van 16 jaar.
Alle Covid-19-regulasies sal nagekom word en lede van die gehoor moet te alle tye ’n masker dra. (Deur Liesel le Roux)

The post Twee konserte onder die sterre vir Oudtshoorn! appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444