Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Pieta herstel ná Covid-19-siekbed, maar sterf toe weens bloedklont

$
0
0

’N BEKENDE sakeman van Oudtshoorn, Pieta van den Heever (51), het verlede week dié Klein Karoo-dorp se soveelste slagoffer van die Covid-19-pandemie geword.

Van den Heever is Woensdagaand (27 Oktober) aan ’n bloedklont deur die hart oorlede, sowat ’n jaar nadat hy weke lank baie ernstig siek was met Covid-19 en daar verskeie kere gevrees is dat hy nie die virus gaan oorlewe nie.

Hy was die mede-eienaar van Oxigym op Oudts­hoorn, wat ook takke elders in die Wes-Kaap het. Hy het die graad BCom in sportbestuur en ’n honneursgraad in sportwetenskap behaal voordat hy en sy broer, Sarel, in 1999 hul eerste gimnasium in Heidelberg (Gauteng) geopen het. In die vroeë 2000’s het hulle Oxigym op Oudtshoorn begin.

Volgens sy vrou, Landi, was hy tussen 16 September en 6 November 2020 in hospitale in Oudtshoorn en George nadat hy Covid-19 opgedoen het. Hy was sowat ses weke daarvan in ’n intensiewe sorgeenheid op George.

“Hy was baie siek. Ek het verskeie kere oproepe ontvang dat dit nie lyk of Pieta dit gaan maak nie,” sê Landi.

Haar man het tydens sy siekte sy tone verloor, en ook hart- en ander gesondheidsprobleme opgedoen.

Landi sê dit is ironies dat haar man Covid-19 gekry het omdat hy juis so passievol was oor die belangrikheid van inenting teen Covid-19. Toe hy egter in 2020 siek geword het, was inentings nog nie beskikbaar nie.

“Iets wat hom teen die mure uitgedryf het, was mense se onwilligheid om hulle teen Covid-19 te laat inent. Hy het alles in sy vermoë gedoen om mense daarvan bewus te maak dat inentings hul én ander mense se lewens kan red.”

“Pieta was altyd passievol oor dinge waarin hy geglo het. Hy was passievol oor Oudtshoorn en sy mense. Hy het nie halfpad in iets ingegaan nie. Hy het gestaan vir wat hy geglo het reg was, en ongelukkig het mense soms dié passie van hom verkeerd verstaan.”

Landi sê sy sal hom ook onthou as iemand wat sonder om twee keer te dink mense gehelp het.

“Hy het regtig baie omgegee vir mense – of dit nou bejaardes was vir wie hy ’n geleentheid hospitaal toe gegee het, of kinders met probleme vir wie hy ’n luisterende oor gebied het.

“Pieta was ’n aktivis wat baie omgegee en gedoen het vir die dorp en vir ander mense, maar ek dink nie baie weet daarvan nie. Die reaksie van mense op sy dood laat my egter besef hoe baie mense hy geken en goeie verhoudings mee gehad het.”

Van den Heever word oorleef deur Landi en twee kinders, Stefan (23) en Anne-Mari (20).

’n Private viering van sy lewe, op uitnodiging, word beoog. (Deur Liesel le Roux)

The post Pieta herstel ná Covid-19-siekbed, maar sterf toe weens bloedklont appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434