DIE Oudtshoorn Munisipaliteit se regskoste in die hofsaak wat Pierre Nel, ’n DA-raadslid van die dorp, teen die munisipaliteit gemaak het, is nou amptelik getakseer en beloop R687 568.
Nel het in 2010 hom na die hof gewend om die uitbetaling van R1,5 miljoen as ’n skikkingsbedrag deur die munisipaliteit aan Noël Pietersen, ’n voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, te probeer voorkom. Nel het egter sy sake in die Hoër Hof en die Appèlhof met koste verloor.
Die munisipaliteit het verlede jaar ’n rekening van meer as R4miljoen vir beweerde regskoste deur die balju by Nel laat aflewer. Volgens Nel was dit nie ’n dagvaarding nie en was die rekening gedruk soos die rekeninge wat belastingbetalers maandeliks vir hul belasting en dienste ontvang.
Die munisipaliteit se totale getakseerde koste vir die twee sake is egter R687 568,24. Die getakseerde koste vir die Hoër Hof-saak voor regter Nathan Erasmus middel 2011 is R362 572,30 en die getakseerde koste vir die Appèlhofsaak in Bloemfontein is R324 996,41.
Nadat Nel die taksasie van die hofkoste vandeesweek gesien het, het hy gesê hy het geen idee waar die bedrag van meer as R4miljoen vandaan kom nie. Hy sê hy beoog om kriminele klagtes van bedrog teen Ronnie Lottering, waarnemende munisipale bestuurder, en Drewan Baird, omstrede konsultant van die munisipaliteit, by die Polisie in te dien deurdat hulle die munisipale raad mislei het.
• Volgens die taksasie wat Die Hoorn gesien het, is Hardy Mills, prokureur van die munisipaliteit, se rekening van R379 684,20 (advokaatfooie ingesluit) vir die appèlsaak na R158 840,50 afgetakseer. Sy korrespondent, Symington & De Kock, se rekening van R165 491,80 is egter getakseer soos ingedien.