Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Kommer oor watergehalte, te veel mense en onderhoud

$
0
0

INWONERS van Oudtshoorn en sportinstellings is bekommerd oor die watergehalte en bestuur van die swembaddens en dat dit verreikende negatiewe gevolge vir die dorp kan inhou.

Nog ’n bron van kommer is dat daar nie voldoen word aan Covid-regulasies oor die aantal besoe-kers wat toegelaat mag word nie.

Volgens Dave van der Walt, operasio­nele be­stuur­der van Eden Twee­kamp, kan sporttoerisme ’n ernstige knou kry en Oudtshoorn se eko­nomie ’n invloei van miljoene rande kan verloor as die Oudtshoorn Munisipaliteit nie dringend aandag skenk aan die NA Smit Swembad nie.

Dié swembad en die Bridgton Swembad voldoen aan olimpiese standaarde.

Hy sê ouers en swemmers wat Saterdag (15 Ja­nuarie) aan ’n groot swemgala by dié swembad deelgeneem het, was baie ongelukkig oor die toestand van die swembad.

Swemmers kon as gevolg van die swak watergehalte nie die swart strepe in die swembad sien nie, terwyl die “touch pads” nie gewerk het nie.

“Dit kos ouers duisende rande om hierheen te kom. Dit is ’n jarelange probleem, en organi­seer­ders sien net eenvoudig nie meer kans om galas verder op Oudts­hoorn te reël nie.

“Dit gaan meebring dat ’n ekonomiese inspuiting van miljoene rande vir Oudtshoorn verlore gaan wees!”
Word reëls vir oop swembaddens nagekom?

Die gala was twee dae nadat die munisipaliteit verlede Donderdag ’n mediaverklaring uitgereik het dat alle swembaddens in die Groter Oudts­hoorn, behalwe die Bridgton Swembad waar instandhouding gedoen word, daagliks tussen 10:00 en 18:00 oop is.

Besoekers by elke swembad word beperk tot nie meer nie as 33% van die fasiliteit se kapasiteit, en om die handhawing van sosiale afstand te verseker, word die aantal mense in die swembad beperk tot 50% van die swembad se kapasiteit.

Daar is le­wens­redders en/of sekuriteitswagte by elke swembad.

Luidens die verklaring sal personeel aan diens by swembaddens niemand verder toelaat wanneer die maksimum aantal bereik is nie.

Beperkinge per swembad is soos volg: NA Smit – 200, Kerkstraat – 67, Bongolethu – 52, Dysselsdorp – 40, Kango Bergoord – 100.

Die Hoorn het kort na die mediaverklaring ontvang is, navrae aan die munisipaliteit deurgestuur nadat ons oproepe uit die gemeenskap ontvang het. Die NA Smit Swembad was in daardie stadium nie oop nie maar gesluit terwyl daar hard gewerk is om die terrein voor te berei en die watergehalte in die swembad te probeer verbeter voor Saterdag se gala.

By die Kerkstraat-swembad, waar net 67 mense toegelaat is, was heelwat meer mense in en om die swembad. ’n Foto wat dit toon, is aan die munisipaliteit gestuur.

Die Hoorn het ook ander navrae in hierdie verband aan die munisipaliteit vir reaksie gestuur en ons kommer geopper oor die veiligheid van kinders in die troebel water.

Teen druktyd gister (Woensdag, 19 Januarie) is nog geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)

The post Kommer oor watergehalte, te veel mense en onderhoud appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434