Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Gratis Rivierbuurtkaartjies vir inwoners

$
0
0

DIE Absa KKNK en die Oudtshoorn Munisipaliteit werk weer vanjaar saam om gratis kaartjies na die Rivierbuurt vir inwoners van die Groter Oudtshoorn beskikbaar te stel.

Die Rivierbuurt bied talle musiekverhoë, die Absa Kunsmark met al sy stalletjies, die Kokkedoorstoor, ’n pretpark en vele kinderaktiwiteite.

Kaartjies is môre (Vrydag, 21 Maart) vanaf 08:00 tot 14:00 by die De Jager Sportkompleks op Oudtshoorn beskikbaar, asook vanaf 10:30 tot 17:00 by die Bridgton Sportgronde waar die Voorbrandfees plaasvind.

Gratis kaartjies sal ook Dinsdag (25 Maart) vanaf 10:00 tot 14:00 by die Blomnek Gemeenskapsaal op De Rust en die Dysselsdorp Gemeenskapsaal uitgedeel word.

Wyksraadslede sal in veral landelike gebiede kaartjies in verdienstelike gevalle oorhandig.

Slegs persone bo 18 jaar kan ’n maksimum van twee kaartjies per persoon kry en moet hul ID-dokumente saambring.

Die bestuurder: sosiale verantwoordelikheid by Kuns Onbeperk (aanbieder van die KKNK), Linda Marques, sê dit is ’n groot voorreg om jaarliks hierdie bydrae te maak.

“Hierdie projek, in samewerking met die Oudtshoorn Munisipaliteit, maak dit vir ons by Kuns Onbeperk moontlik om blootstelling aan die kunste te bevorder en groter aktiewe gehore te kweek,” sê Marques.

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Gordon April, sê die munisipaliteit wil hiermee die eienaarskap van die fees onder alle inwoners van die Groter Oudtshoorn uitbou.

“Dit val saam met ons visie vir die Groter Oudtshoorn as ’n streek waar ons kan werk, leer, speel en floreer en waarin die kunste ’n groot rol speel,” sê April.

Tehuise vir senior burgers in die Groter Oudtshoorn (Swartberg Dienssentrum op Dysselsdorp, Coronation Memorial, Gottlandhuis, Tuishuis, Helen Bellinganhof, Caves Aftreeoord, Oudtshoorn Aftreeoord en Millenniumpark) sowel as die Eljada Instituut en die Vereniging vir Liggaamlik Gestremdes sal genooi word om ’n lys van kaartjies wat benodig word deur te gee, sodat bejaardes en gestremdes nie in lang rye hoef te staan nie.

• Kontak Linda Marques by 044 203 8600 of Greg Baartman by 044 203 3000 vir meer inligting.

 


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434