
Gaste by HB Attorneys se vieringe van hul eerste jaar op Oudtshoorn.
OM tydens ’n pandemie ’n besigheid te bedryf is self ’n stryd, maar om ’n nuwe besigheid op die been te bring en dit suksesvol deur die eerste moeilike jaar te bestuur en te laat groei, verg nóg méér krag en deursettingsvermoë.
Dit is presies wat Helene Badenhorst en haar regterhand, Kayla Botha, die afgelope jaar vermag het. Op 17 Februarie het hulle HB Attorneys se eerste bestaansjaar op Oudtshoorn met ’n gesellige geleentheid by die Queen’s Hotel gevier.
Helene het haar praktyk op 8 Februarie 2021 in Oudtshoorn, haar geboortedorp, gevestig omdat sy die behoefte aan ’n “moderne en persoonlike” regsfirma op die dorp raakgesien het. Weens haar geskiedenis met Oudtshoorn kon sy aan geen ander plek dink om haar LLB-graad van die Universiteit van Stellenbosch toe te pas nie. Sy het in die afgelope jaar ook haar Meestersgraad voltooi.
HB Attorneys spesialiseer in eiendomsoordragte, kommersiële reg, boedeladministrasie en arbeidsreg. Helene sê sy is trots daarop dat die manier hoe sy nog altyd wou praktiseer – op ’n gespesialiseerde, toeganklike en persoonlike manier – ’n verskil in haar kliënte se lewens maak.
Met haar eerste suksesvolle jaar agter die rug sê Helene dat haar droom van ’n praktyk hier nie sou kon realiseer as dit nie vir haar kliënte, vriende en familie se bydrae was nie. “Ek weet werklik nie hoe om daarvoor dankie te sê nie. Wat ek wel kan doen is om te onderneem om altyd ons verhouding met elke kliënt te prioritiseer, sodat ons altyd die spesifieke diens kan lewer wat elkeen benodig.”
Die toekoms lyk blink vir HB Attorneys, sê Helene. Op 1 Junie beoog sy om ’n tak in Belville, Kaapstad te open wat in eiendomsoordragte sal spesialiseer. “Die voordele wat dit vir ons kliënte inhou, is dat ons ons fooie so laag as moontlik kan probeer hou, maar ook beter diens kan lewer.”
Sien HB Attorneys se advertensie onder vir hul kontakbesonderhede.

The post HB Attorneys vier hul 1ste jaar! appeared first on Die Hoorn.