
Een van die sleutelverdagtes kyk in boeie toe terwyl lede van die ondersoekspan sy motor deursoek en beslag gelê het daarop asook op bestuurderslisensiedokumente wat deur bedrog verkry is. (Foto verskaf.)

’N GEHEIME maandelange ondersoek na leerling- en bestuurderslisensiebedrog – so geheim dat niemand by die munisipaliteit daaroor ingelig was nie – het Vrydag gelei tot die inhegtenisneming van elf mense tussen die ouderdomme van 34 en 61 jaar oud.
Die saak teen elf verdagtes, onder wie personeellede van die Oudtshoorn Verkeersdepartement en die bestuurder en personeel van ’n plaaslike bestuurskool, is Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof tot môre (Vrydag) verdaag wanneer nege van hulle om borgtog sal aansoek doen.
Die verdagtes is na bewering almal betrokke by ’n georganiseerde sindikaat wat leerling- en/of bestuurderslisensies aan aansoekers – met die hulp van die bestuurskool en in ruil vir vergoeding – uitgereik het. Hulle staan tereg op aanklagte van die oortreding van die Padverkeerswet, bedrog, korrupsie en geldwassery.
Die gesamentlike ondersoekspan het Vrydag met deursoekings- en beslagleggingslasbriewe op die Oudtshoorn-bestuurslisensiekantoor asook wonings van geïdentifiseerde verdagtes toege-slaan. Daar is ook beslag gelê op ’n Mercedes 14 ton-vragmotor (foto bo), ’n motor, selfone, rekenaartoerusting en ’n onbekende bedrag kontant. Volgens Pojie hou dit regstreeks verband met die onwettige transaksies.
Die verdagtes, Noloyizo Tose, Thabo Mgaba, Sandsile Johnson, Ingrid Wagenaar, Ivan Human, Warren Coetzee, Yolande Stalmeester, Phumezo Tshomiso, Samuel van Hansen, Promise Sovasi en Xolili Gaya, is Vrydag tydens ’n operasie deur provinsiale speurders verbonde aan die SAPD se gespesialiseerde eenhede vir kubermisdaad, handelsmisdaad en misdaadintelligensie en Wes-Kaapse Departement Vervoer in hegtenis geneem.
Die inhegtenisneming het gevolg op ’n ge-heime ondersoek wat oor ’n tydperk gestrek en deel uitgemaak het van Operasie Vura wat reeds in Julie 2021 geloods is. Die huidige ondersoekspan het egter in Oktober verlede jaar die saak oorgeneem.
Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het die hof meegedeel dat die staat minstens sewe dae nodig het om ’n borgaansoek aan te hoor en dat moontlik nog klagtes tot die klagstaat gevoeg kan word. Volgens haar is R1,6 miljoen by die saak betrokke.
Die verdagtes se regsverteenwoordigers het Dinsdag egter beswaar aangeteken teen die staat se versoek om die saak vir sewe dae uit te stel om al die nodige inligting soos vaste woonadresse en borgprofiele van die verdagtes te bekom.
Adv Benito Metembo, wat vyf van die verdagtes verteenwoordig, het dit aan die hof gestel dat dit onaanvaarbaar is dat die ondersoekspan nog nie al die inligting het nie en tog die verdagtes in hegtenis geneem het.
Landdros Jesus Williams het nadat hy die besware van die verdagtes se regsverteenwoordigers aangehoor het, gesê aantygings dat die staat die hof mislei, is ernstig.
Volgens hom is Jordaan ’n senior en baie bekwame aanklaer wat nie net haar oë sal toemaak en wilde besluite neem nie.
“’n Borgtogaansoek kan nie aangehoor word sonder al die relevante inligting oor al die ver-dagtes nie.
“Om oorhaastig ’n borgaansoek aan te hoor kan ook tot nadeel van die beskuldigdes wees. Die staat is nie daar om mense te kruisig nie,” het die landdros gesê. “Die hof het alle inligting nodig om ’n regverdige besluit te kan neem.”
Die landdros het egter toegegee dat sewe dae te lank is om die saak uit te stel en beslis dat dit vir ’n borgaansoek tot môre (25 Februarie) uitgestel word. Twee van die elf verdagtes is om mediese redes op waarskuwing vrygelaat.
• Aurelia Mle, woordvoerder van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, het bevestig dat die burgemeester, Chad Louw, en die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, nie kennis gedra het van die ondersoek by die verkeersafdeling nie. “Die munisipaliteit sal saamwerk ten opsigte van enige inligting wat benodig word,” het Mle bygevoeg.
Volgens Mle is daar weens die inhegtenisnemings ’n tekort aan personeel by die verkeersdepartement wat tydelik kapasiteit beperk. Dienste wat tans afgeskaal moet word, is die vir leerling- en bestuurderslisensies asook die hernuwing van lisensies. Die verkeersdepartement sal voorlopig Saterdae gesluit wees, terwyl mense wat vandeesweek afsprake gehad het, gekontak sal word vir die herskedulering van die afsprake. (Deur Garnett Wicomb en Liesel le Roux)
The post SAPD en Departement Vervoer slaan toe op verkeersdepartement appeared first on Die Hoorn.