BORGTOG van R5 000 is Vrydagmiddag (25 Februarie 2022) in die Oudtshoorn Streekhof toegestaan aan nege van die elf verdagtes wat ’n week vroeër in hegtenis geneem is tydens ’n operasie deur provinsiale speurders verbonde aan die SAPD se gespesialiseerde eenhede vir kuburmisdaad, handelsmisdaad en misdaadintelligensie asook die Wes-Kaapse Depar- tement van Vervoer.
Dié operasie het gevolg op ’n ondersoek oor die beweerde onwettige uitreiking van leerling- en bestuurslisensies by die verkeersdepartement.
Noloyizo Tose (38, eienaar van die Kwesta-bestuurskool), Thabo Mgaba (42, eienaar van die Mvovo-bestuurskool), Sandile Johnson (44, instrukteur by Kwesta-bestuurskool) en Promise Sowasi (39, bestuurskool-werknemer), asook die volgende werknemers van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit se verkeersdepartement: Yolande Stalmeester (34), Phumezo Tshomiso (35), Samuel van Hansen (48), Warren Coetzee (45) en Xolile Gaya (39) was sedert Vrydag 18 Fe-bruarie 2022 in aanhouding.
Die nege se regsverteenwoordigers, adv Benito Mtembo, Zukile Mqulo, Bradley Michaels en Balelali Bans, het verklarings van die nege applikante aan die hof voorgelees waarin hulle aanvoer dat hulle onskuldig sal pleit op die aanklagte teen hulle en alle borgtogvoorwaardes sal nakom.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie.
Die twee ander verdagtes, Ivan Human en Ingrid Wagenaar, is reeds na hul inhegtenisname om gesondheidsredes op waarskuwing vrygelaat.
Volgens landdros Graehymme Williams is sy groot kommer die feit dat die beskuldigdes tereg staan op ernstige klagtes van korrupsie en bedrog. “Korrupsie is besig om ’n gewoonte te word. Ons kan nie toelaat dat iets wat abnormaal is normaal word nie. Dit is ’n aanslag op ons gemeenskap,” het hy gesê.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, se versoek dat die beskuldigdes op ’n gereelde grondslag by polisiekantore aanmeld, is geweier omdat die staat reeds toegegee het dat hulle nie vlugrisiko’s is nie.
Die hof het bevind dat dit wel in belang van geregtigheid is om borgtog aan die nege applikante toe te staan en die staat nie borgtog teengestaan het nie. Al die aansoekers beskik oor vaste werk en adresse met hul families wat almal in die Oudtshoorn-omgewing woon. Die hof het ook in ag geneem dat daar geen getuienis voor die hof is dat die twee van hulle met vorige veroordelings meer as tien jaar gelede, weer misdaad sal pleeg nie.
Volgens hul borgtogvoorwaardes mag hulle nie met staatsgetuies kontak maak nie, moet hulle wegbly van die munisipale verkeersdepartement en die ondersoekspan in kennis stel wanneer hulle die Wes-Kaap wil verlaat.
Die ses verdagtes in diens van die verkeersdepartement moet met die ondersoekspan in kontak tree indien hulle persoonlike items wil gaan kry. Hulle mag ook nie ingaan op die Natis-stelsel van die verkeersdepartement nie. Dieselfde voorwaardes geld vir Human en Wagenaar.
Die saak is uitgestel tot 29 April 2022. (Deur Garnett Wicomb)
The post Nege in verkeersdepartement-saak kry borgtog appeared first on Die Hoorn.