HOEWEL daar die afgelope paar weke talle gesprekke oor samewerking was tussen raadslede van opposisie- en ander partye in die Groter Oudtshoorn om ’n nuwe koalisieregering te vorm, kon dié partye nie ’n ooreenkoms bereik nie.
Verteenwoordigers van die DA, Vryheidsfront Plus (VF Plus), die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (OGI), die Patriotic Alliance (PA) en die Advieskantoor het aan Die Hoorn bevestig dat hulle gesels het, maar dat geen ooreenkoms bereik is nie.
Chris Macpherson, DA-raadslid, het Maandagmiddag by ’n perskonferensie van DA- en VF Plus-raadslede gesê daar is die afgelope maande hard deur verskeie partye gewerk om ’n samewerkingsooreenkoms te probeer sluit tussen partye wat die raad kon oorneem. Die DA, VF Plus en nog ’n party wat betrokke was, het egter ook federale strukture wat geken moet word in so ’n besluit met plaaslike raadslede wat nie alleen kan besluit nie.
Patrick Sambo, sekretaris van OGI, het bevestig dat gesprekke rondom ’n alternatiewe koalisieregering plaasgevind het, maar dat geen ooreenkoms onderteken is nie. OGI het in Desember aan die rege-rende ANC-koalisie onttrek.
Suzane Jansen, PA-raadslid, het by navraag gesê die PA gesels met almal wat die gemeenskap se belange op die hart dra. Die PA het ook onlangs aan die regerende koalisie onttrek.
Volgens Leon Campher van die Advieskantoor is hy steeds betrokke by die huidige regerende koalisie, maar is hy ook altyd bereid om gesprekke te voer.
Dit wil voorkom of die toekenning van sekere posisies, soos die van burgemeester en onder-burgemeester, een van die groot struikelblokke in die gesprekke was, terwyl een van die partye glo ook werk vir party-lede by die munisipaliteit eis.
Volgens die DA en VF Plus-raadslede was hulle die naweek onder die indruk dat ’n ooreenkoms bereik is, en is hulle steeds bereid om te onderhandel.
“Ons deure staan oop vir ander partye. Ons is bereid om te onderhandel, maar nie om alles net te abdikeer nie,” het Macpherson gesê. “Ons gaan nie ophou probeer om die beheer van die dorp oor te neem nie. Ons dorp gaan agteruit.”
• Raadslede wat die perskonferensie bygewoon het, was duidelik gefrustreerd oor die huidige hantering van talle kwessies deur die raad, asook ’n gebrek aan dienslewering aan die publiek.
Hieronder tel die versuim om notules van raadsvergaderings sedert September verlede jaar, toe die ANC en Icosa die raad oorgeneem het, voor die raad te laat dien of te laat goedkeur – wat beteken dat daar geen rekord is van raadsvergaderings sedert September 2021 nie.
Die raad versuim ook om elke drie maande soos voorgeskryf ’n gewone raads-vergadering te hou met slegs spesiale vergaderings wat sedert die Novermber 2021- verkiesing gehou is, en dit dikwels op kort kennisgewing.
• Van die raadslede het ook hul frustrasie en kommer verwoord oor ’n gebrek aan reaksie van die amptenary op ’n “daaglikse stroom klagtes” wat hulle van inwoners ontvang en deurgee – oor kwessies soos straatligte wat nie brand nie, die toestand van paaie en stormwaterslote wat skoongemaak moet word. Die raadslede sê hulle mag slegs klagtes deurgee aan die administrasie omdat hulle andersins van inmenging beskuldig word.
• Ander punte van kommer was die EPWP (Expanded Public Works Programme)-personeel wat nêrens te sien is nie, en ook vrae of al begin is met die voorbereiding, opknap en skoonmaak van infrastruktuur soos die Banketsaal en ouditorium en die strate voor die KKNK.
Johan Allers (VF Plus) het gesê die party vind dit teleurstellend en frustrerend dat probleme van inwoners nie opgelos word en daar nie aandag geskenk word aan klagtes nie. “Dit is ’n nagmerrie.” (Deur Liesel le Roux)
The post Geen ooreenkoms vir nuwe koalisie appeared first on Die Hoorn.