Deur Schalk le Roux

Gert Vermaak met sy fiets waarmee hy die laaste paar jaar lang reise aanpak.
SEDERT Gert Vermaak in Augustus 2011 deur ’n motorryer omgery is, het sy lewe ingrypend verander.
Vermaak, ’n skrynwerker voor sy ongeluk, vertel hy is baie ernstig beseer en was ná die ongeluk byna drie maande in die hospitaal. Daarna het hy lank met ’n loopraam geloop en kon hy vir ’n lang tyd nie werk nie.
Toe hy eindelik weer kans gesien het om te begin werk, kon hy nie lank uithou by een werk nie omdat hy nie meer dieselfde as voorheen was nie.
Mettertyd het hy ook die meeste van sy besittings verloor, sê hy.
Vermaak vertel hy het in 2012 begin om per fiets die lang pad aan te pak. Sy eerste reis was van George via Mosselbaai en Heidelberg na Kaapstad en met die R62 terug na George. Hy het ook al ’n slag oor Avontuur na Willowmore gery en daarna weer Kaap toe. Hy was Vrydag op Oudtshoorn en is tans op pad na Graaff-Reinet, sê hy.
Hy ry met ’n waentjie agter sy fiets en reis met al sy aardse besittings by hom. Dit sluit in ’n stukkende tent, slaapgoed, klere, ’n ketel, pot, messegoed en ’n braairooster wat van fietsspeke gemaak is. Hy sê hy maak sy kos oor die kole gaar. Op ’n vraag waar hy kos kry, sê hy: “Alle eer aan Yaweh. Hy sorg vir my.”
Vermaak dra sy kettie om sy nek vir selfverdediging. Hy ry ook sy varswatervisstok saam om vir iets te ete te hengel as hy by ’n dam verbyry.
“Ek het in 2001 begin skilder en teken, en ry ook al my verf, kwaste, potlode en papier saam.”
Vermaak slaap meestal êrens langs die pad waar hy hom bevind voordat dit begin donker raak.
Hy sê in sy jong dae was hy onder meer ’n lid van 4 Verkenningsregiment se intelligensie-afdeling, ’n privaatspeurder en ’n lyfwag.
Volgens Vermaak is hy al langer as 20 jaar gelede geskei. Hy het sy kin-ders, twee dogters en ’n seun, in 1990 laas gesien en het geen kontak met hulle nie.
Hy het ook ’n selfoon by hom, maar net sodat die prokureur wat hom by die Padongelukfonds verteenwoordig, hom in die hande kan kry in verband met ’n vergoedingseis vir die hospitaalkoste na sy ongeluk.