Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Sy wou ’n sprokie skep vir Oudtshoorn, sê Annamarie

$
0
0

Tydens ’n aandwandeling op 17 Maart deur lede van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE) na erfenisgeboue naby die kruising van Baron van Reede- en Kerkstraat, het Annamarie Janse van Rensburg haar droom vir die Standard Bankgebou op Oudtshoorn met teenwoordiges gedeel. Dié droom het egter nie gerealiseer nie, maar mag Oudtshoorniete inspireer om aan te hou droom hoe om hul dorp mooier te maak.

SY wou ’n sprokie skep vir Oudtshoorn, vertel Annamarie Janse van Rensburg, bekende kunstenaar en eienaar van The Paint Pot op die dorp, en het daarom sewe maande lank probeer om die historiese Standard Bank-gebou op die dorp te koop en dit te omskep in ’n pragvenue wat mense na die dorp kon trek.

Janse van Rensburg het in dié sewe maande hard geveg om finansiering vir die kooptransaksie te kry. Haar droom was egter daarmee heen toe die eienaar, wat in Ierland woon, die gebou aan iemand anders verkoop het.

Sy vertel sy het in November ’n aanbod vir die gebou deur ’n eiendomsagentskap gemaak, en oor die volgende maande “met elke bank in die land” gesprekke gevoer vir finansiering. Hoewel van die banke groot moeite gedoen het om die droom te laat realiseer, was dit volgens haar onmoontlik om bankfinansiering vir ’n geplunderde gebou te kry.

In die maande nadat die personeel van Standard Bank in Mei verlede jaar na ’n kleiner perseel in die dorp getrek het, het die leë bankgebou kwaai onder vandalisme en plundering deurgeloop.

In April het sy egter ’n privaat-finansier gekry en was sy onder die indruk dat die bankgebou hare gaan wees. Die sleutel van die bankgebou wat in daardie stadium by The Paint Pot was, is egter die dag daarna laat haal en dit het toe geblyk dat die eienaar ’n hoër aanbod van ’n ander koper aanvaar het en die gebou verkoop het.

Janse van Rensburg sê sy voel of sy die mense van Oudtshoorn gefaal het.

“Ek wil net vir Oudtshoorn se mense sê: Ek is jammer, ek het my alles gegee, ek het alles in my vermoë gedoen om die gebou te koop.”

Volgens haar is dit vir haar steeds ongelooflik hoe baie inwoners saam met haar gedroom het, beplan het, haar met hul kundigheid bygestaan het en betrokke geraak het.

“Daar was die hele tyd net een rede vir hierdie droom van my: Ek het dit net vir die dorp gedoen, en ek het geglo dit sou die deurslag gee wanneer ek my aanbod indien.”

Dit was die droom
Janse van Rensburg sê sy wou die sandsteengebou in Kerkstraat, wat in 1904 sy deure as die plaaslike Standard Bank geopen het, restoureer tot die gloriedae van ’n eeu gelede. Dit sou funksioneer as ’n venue en unieke toerismesentrum wat werk sou skep en besoekers na Oudts­hoorn lok.

“Ek wou mense terugneem na ’n tydperk van fluweel en kristal, waar iemand met wit handskoene die deur vir mense oopmaak en hulle in ’n pragtige vertrek met kristalkandelare en wit en swart teels sou verwelkom.”

Hier sou ’n wye verskeidenheid produkte uit die streek te koop gewees het by 20 mikrobesighede – kos, kuns, linne, juweliersware, velskoene, enso­voorts, met ook onder meer ’n koffiewinkel en ’n wynkelder wat in die oorspronklike ou bankkluis ingerig sou word.

Van die kantore en vertrekke in die gebou sou ook besighede soos ’n haarsalon, skoonheidsalonne en ’n kunsgalery gehuisves het.

En omdat die volkskrywer CJ Langenhoven sy kantoor in die gebou gehad het, sou sy nalatenskap daar voortleef, onder meer deur ’n klein biblioteek met sy boeke en kunsboeke wat besoekers kon lees en deurblaai terwyl hulle daar kuier of voor een van die sewe kaggels in die gebou ontspan.

“Ek weet ek kan ’n plek sprokiesmooi maak en dit is wat ek met dié gebou wou doen, en ek glo dit is ook daarom dat so baie mense betrokke ge-raak het en saam met my gedroom het.”

Volgens Janse van Rensburg was The Paint Pot 36 jaar lank die buurwinkel van Standard Bank, sedert die dae toe die winkel aan haar ouers behoort het. Toe die bank verlede jaar na ’n kleiner perseel verskuif, was sy emosioneel so daardeur geraak dat sy gaan vra het of sy die letters wat die naam gespel het as aandenking kon koop.

“Dit was vir my hartseer toe hulle die naam afhaal,” sê sy.

En dit was hier waar haar visie vir die bank ontstaan het. Sy het na aanleiding van die letters wat sy gekoop het, op ’n familiegroep geskryf het dat sy besig is “om die bank te koop”. Haar suster en broers het geesdriftig gereageer dat hulle by haar sal kom spasie vir hul besighede huur.

“Dit is waar die hele droom begin het. Ek het ’n pizzaboks gevat en sommer daarop begin teken en skryf watter besighede daar sou inpas. Almal wat ek genader het, het ja gesê. Daar was reeds twintig mikrobesighede wat huurspasie in die gebou wou hê.

Sy sê sy sukkel om te aanvaar dat dié droom verby is. “Die hele tyd het dit vir my gevoel die bank gaan myne wees. Snags het ek letterlik oor die gebou gedroom – hoe ek in die nag daarbinne is en dan gaan die ligte aan … en hoe mooi dit vir my was…”

• Die nuwe eienaar van die gebou het op navraag van Die Hoorn gesê hy is besig om ’n aantal opsies te ondersoek ten opsigte van hoe hy die gebou gaan benut, maar is nie haastig nie en het nog geen finale besluit daaroor geneem nie. Op ’n vraag of hy bereid sal wees om ’n aanbod vir die verkoop van die gebou aan Janse van Rensburg te oorweeg, het hy gesê dat hy be­reid is om na ’n aanbod te kyk, maar dit slegs sal kan oorweeg as hy ’n wins kan maak en sy koste kan dek. (Deur Liesel le Roux)

The post Sy wou ’n sprokie skep vir Oudtshoorn, sê Annamarie appeared first on Die Hoorn.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434