’N BOTSING tussen drie voertuie enkele kilometers buite Calitzdorp op die R62 na Oudtshoorn Vrydagoggend (17 Junie) het ’n massiewe verkeersopeenhoping van voertuie veroorsaak, met van die voertuie wat langer as ’n uur moes wag om deurgelaat te word.
Die verkeer op die R62 was juis Vrydag, wat deel was van ’n landwye langnaweek, buitengewoon druk.
Talle besoekers het ook na Calitzdorp gereis vir die Calitzdorp Expressed-fees.
Twee mense, ’n pa en seun, is in die ongeluk oorlede. Kapt Ian Meyer, stasiebevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, het aangedui dat die name van die oorledenes, wat met ’n gehuurde Toyota Corolla op pad was na Riversdal, nie bekend gemaak kan word nie.
Die ma van die gesin is met ernstige beserings per ambulans na ’n hospitaal afgevoer. ’n Tweede kind wat ook in die gehuurde motor was, is lig beseer.
Dié gesin is blykbaar van elders en nie van dié streek nie.
Meyer sê ’n vierde voertuig het die driedubbele botsing naelskraap ontkom.
Volgens Meyer het die botsing na bewering plaasgevind toe die bestuurder van ’n Volkswagen Tiguan ’n bakkie met ’n sleepwa vol voer op die R62 wou verbysteek.
Albei voertuie was uit Calitzdorp se rigting op pad na Oudtshoorn.
Die bakkie het na bewering effens padgegee sodat die bestuurder van die Tiguan kon sien dat ’n Toyota Corolla van voor af op pad was.
’n Vierde voertuig, ook ’n bakkie op pad van Calitzdorp in Oudtshoorn se rigting, het egter na bewering toe probeer om die Tiguan sowel as die bakkie met sy sleepwa van agter verby te steek.
“Die tweede bakkie was byna langs die Tiguan toe die bestuurder probeer terugswaai om nie met die aankomende voertuig te bots nie, maar het die Tiguan regs agter getref, en met die aankomende voertuig gebots.”
Die gehuurde Toyota Corolla met die gesin van vier het die pad verlaat. Volgens Meyer moes die pa uit die motor gesny word.
Die bestuurder van die bakkie wat die Toyota Corolla en die Tiguan getref het, het volgens Meyer geen beserings opgedoen nie.
’n Saak van strafbare manslag word deur die Polisie ondersoek. (Deur Stefan Skapie Goosen)
The post Twee sterf in grubotsing buite Calitzdorp appeared first on Die Hoorn.