
Die ruwe, steil rotse van die Rooikoppe tussen Oudtshoorn en Calitzdorp waar ’n inwoner van George, die 75-jarige Dan Lategan Saterdagaand gered moes word nadat hy deur die donker oorval is en nie sy pad kon vind nie
Deur Liesel le Roux
’N 75-JARIGE inwoner van George wat Saterdagaand op die Red Stone Hills Gasteplaas tussen Oudtshoorn en Calitzdorp verdwaal het, is ná ’n paar ure in die Rooikoppe met die hulp van sy selfoon se liggie gered.
Dan Lategan was vandeesweek baie dankbaar dat hy nie die nag in die onherbergsame Rooikoppe aan die voet van die Swartberge moes deurbring nie.
Hy het net lof gehad vir die eienaars van die Red Stone Hills Gasteplaas, Hermanus en Petro Potgieter, en vir die Calitzdorp Polisie wat dadelik opgetree het toe hy daarin kon slaag om met sy selfoon hulp te ontbied.
Lategan vertel hy en sy vrou, Lorraine, het hul 50ste huweliksherdenking die naweek op die pragtige gasteplaas gaan vier. Hulle is inwoners van die Genevafontein Aftreeoord op George.
Hoewel dié 50ste huweliksherdenking dalk nie afgeloop het soos wat die Lategans dit beplan het nie, is dit een wat hulle nooit sal vergeet nie.
Mnr Lategan het omstreeks 17:00 een van die groot koppe agter die huisie waar hulle gebly het, gaan uitklim, maar met die terugkomslag teen skemer het hy iewers verkeerd gedraai en in ’n lang kloof langs die Vleirivier beland.
Hy was egter nie bekommerd nie omdat hy huise voor hom kon sien en het besluit om daarheen te stap.
“Toe ek nader kom, het ek egter gesien daar is ’n rivier tussen my en hulle. Om die waarheid te sê het die rivier daar ’n U-draai gemaak en was dit aan drie kante van my.”
Lategan sê hy het besef hy is in die moeilikheid.
Dit was reeds donker en hoewel hy sy selfoon by hom gehad het, het hy geen ontvangs gehad nie.
“Gelukkig was dit ’n warm aand. Daar was ook helder maanlig en ek het besef ek moet bo-op ’n koppie kom om hulp te ontbied.”
Hy het geslaag om deur bosse en soms val-val deur gate en verby steil rotse tot op ’n koppie te kom waar hy sy skoonsuster gebel het. Hy het gevra sy moet die Potgieters in kennis stel.
Volgens me Potgieter was hulle egter reeds besig om na Lategan te soek toe hulle die oproep ontvang.
Me Lategan het omstreeks 19:30 by hulle hulp kom vra nadat haar man teen donker nog nie na hul huisie teruggekeer het nie.
Mnr Potgieter, self ’n man van 74, het eers alleen gaan soek, maar kon Lategan nie vind nie.
Die Calitzdorp Polisie is intussen ontbied en konst Deon Claassen en Potgieter het weer gaan soek, maar sonder sukses.
’n Derde soektog was egter suksesvol.
Terwyl kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, met ’n polisievoertuig met blou ligte gery het, was Lategan per selfoon in kontak met die polisiedienssentrum en kon hy aandui toe hy die ligte sien.
Strydom het met ’n kollig toe vir Lategan gewys waar hulle was en lig gemaak vir die ander lede om hom op die koppie te gaan haal nadat hulle sy selfoonliggie opgemerk het.
“Dit is ’n ruwe, gevaarlike omgewing met loodregte rotse en dit was nogal moeilik om hom met al die los klippe in die donker daar af te kry,” het me Potgieter vandeesweek gesê.
Lategan was Saterdagaand om middernag weer by sy vrou.
Hy was ongedeerd, behalwe vir heelwat krapmerke en ’n seer lyf ná die ontbering.
Hy het Die Hoorn gevra om die Potgieters en die Polisie te bedank vir hul hulp om hom in veiligheid te bring.
“Ek wil baie dankie sê aan Hermanus en Petro Potgieter, kapt Joey Strydom, konst Deon Claassen, ao Trevor Viljoen, ao Gavin Viljoen en sers Elton Lucas. Hulle almal het ver bo enige verwagting van my kant af uit hul pad gegaan om my te help uit ’n situasie waarin ek beland het as gevolg van onvoldoende voorsorg en nalatigheid.”
Lategan sê hy besef nou ’n mens kan nie alleen gaan stap nie, selfs nie al dink jy jy gaan net in die omgewing rondloop of klim nie.