Deur Liezl van Niekerk
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n ’n man van Smartie Town in Oudtshoorn die afgelope naweek deur ’n polisiebeampte raakgeskiet is.
Die voorval het plaasgevind nadat die Polisie Saterdagaand ontbied is om mnr Rozaan (Boytjie) Zana (21) by sy ouerhuis te verwyder.
Kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die skietvoorval die week bevestig.
Volgens Zana se ma, Maria, is daar as gevolg van vorige voorvalle van oproerigheid ’n beskermingsbevel in terme van die Gesinsgeweldwet verkry wat haar seun verhinder om die huis te besoek.
“Hy het Saterdagaand egter huis toe gekom en weer moeilikheid gemaak. Ek het hom aanvanklik gelos, maar ’n familielid het die polisie gebel om hom te kom verwyder,” het sy gesê.
Volgens Pojie het ’n geveg uitgebreek toe Zana deur twee polisiebeamptes oor sy optrede gekonfronteer is.
“Die lede het gepoog om hom in hegtenis te neem. Met die gestoei op die grond het een van die lede se vuurwapens afgegaan en is die persoon in die rug getref. Beide se vuurwapens is ingehandig vir ballistiese toetse.”
Pojie sê ’n klagte van die verontagsaming van die beskermingsbevel (gesinsgeweld) word teen Zana ondersoek.
Zana is in die Oudtshoorn Hospitaal opgeneem met ’n skietwond aan sy regtersy.
Hy is Dinsdag geopereer.