TEN spyte van klaarblyklike pogings van nasionale en provinsiale ANC-leiers om die burgemeester van die Groter Oudtshoorn te vervang, is mnr Gordon April steeds die Groter Oudtshoorn se eerste burger. Ook ander beoogde verskuiwings aan die raad het nie plaasgevind nie.
Mnr Putco Mapitiza, Suid-Kaapse sekretaris van die ANC, het verlede Woensdag amptelik bekend gemaak dat die ANC besluit het om die Groter Oudtshoorn-raad te skommel “om die politieke en administratiewe situasie op die dorp te verbeter”. ’n Raadsvergadering wat vir Maandagoggend belê is, het egter nie dié planne laat realiseer nie nadat ANC-raadslede klaarblyklik nie kon saamstem om ’n raadsbesluit te neem nie.
Die vergadering het begin met ’n groot polisieteenwoordigheid buite die Oudtshoorn Burgersentrum, terwyl slegs lede van die media en politieke leiers in die raadsaal toegelaat is. Toe DA-raadslede beswaar aangeteken het daarteen dat inwoners nie in die raadsaal toegelaat is nie, het die speaker, mnr John Stoffels (NPP), aangedui dat inligting ontvang is van “moontlike konflik” en dat dit gedoen is om raadslede te beskerm.
Op die agenda van die vergadering was slegs twee punte – “Uitvoerende burgemeester” en “Aanstelling van waarnemende munisipale bestuurder”. Stoffels het egter gesê ’n nuwe agenda sou tydens die vergadering uitgedeel word.
Dié planne is egter in die wiele gery toe April en ook mnr Pieter Luiters (ANC) vir ’n koukus van 30 minute gevra het. Luiters was ernstig beswaard dat inwoners nie by die vergadering toegelaat is nie. Die ANC-raadslede het nie weer teruggekeer na die raadsaal nie.
• Duidelik gefrustreerde raadslede van die DA en Cope het tydens en na die vergadering beswaar gemaak oor verskeie sake. Volgens mnr Wessie van der Westhuizen, DA-hoofsweep, is dit onaanvaarbaar dat DA-raadslede nie inligting ontvang het waaroor die vergadering sou handel sodat hulle hul daarvoor kon voorberei nie. “Tot ’n kwartier voor die vergadering was daar geen bedanking van die burgemeester of mosie van wantroue ingedien nie.” (Die twee maniere waarop ’n burgemeester vervang kan word.)
Van der Westhuizen het ook kritiek daarteen uitgespreek dat ANC-leiers ’n politieke vergadering met mnr Marius Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, die vorige Dinsdag in die munisipale gebou gehou het. “Ek lê die probleme van verlede week voor die deur van Marius Fransman. As die ANC gehou het by die besluit van die NEC sou ons nie die probleem gehad het van verlede week nie.”
Hiermee het Van der Westhuizen verwys na die besoek van Fransman, Wes-Kaapse ANC-leier, die vorige Dinsdag (30 Mei) aan Oudtshoorn waartydens aanbevelings oor die plaaslike raad van me Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, herroep is. Na verneem word het Duarte onder meer voorgestel dat Luiters April moet vervang, terwyl verlede week voorgestel is dat mnr Charlie Wagenaar burgemeester moet word.
Van der Westhuizen het ook gesê die DA is bekommerd oor omstrede aanstellings by die munisipaliteit, tenderprosedures en die verval van paaie.
Mnr Ronnie Lottering, waarnemende munisipale bestuurder, het na die vergadering aan die media gesê dienslewering en ander werksaamhede van die munisipaliteit gaan soos gewoonlik voort. Volgens hom is die munisipaliteit onder meer besig met ’n proses om van die dorp se strate te herseël en vorder die proses om ’n nuwe munisipale bestuurder aan te stel ook.