Deur Garnett Wicomb
’N 46-JARIGE Chinese burger, Guoshun Gao (46), het vlugtig in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn op aanklag dat hy by ’n sameswering betrokke was om Julia Bagley, voormalige eienaar van die nagklub Bagley’s, te vermoor.
Die saak teen Gao is deur landdros Lorraine Samuels vir ’n formele borgaansoek tot 7 Oktober uitgestel. Gao het in slegs ’n lang onderbroek in die hof verskyn.
Volgens kapt Louis Visser, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn Polisie, het Gao na bewering op Maandag, 22 September, twee mense op Pacaltsdorp genader om ’n misdaad te pleeg en hulle na Oudtshoorn gebring.
“Die Polisie het daarvan te hore gekom en nadat die saak ondersoek is vir Gao in hegtenis geneem.”
Bagley’s is ’n tyd gelede verkoop, maar die besigheid se deure is deur die Polisie gesluit omdat die oordrag van die lisensie na die nuwe eienaars nog nie goedgekeur is nie en die nuwe eienaars dus nie tans wettig met drank kan handel dryf nie.