Deur Schalk le Roux
DIE publiek van Oudtshoorn en die Suid-Kaap gaan vanjaar baie meer geleenthede as voorheen hê om in die opwinding van die Bridge Cape Pioneer Trek, ’n internasionaal erkende multiskof-bergfietsren, te deel. Die fietsren begin die naweek met fietsryers van 15 lande wat deelneem!
By Sondag se proloog by Buffelsdrift sal van die wêreld se voorste bergfietsryers in aksie wees. Die proloog begin en eindig naby Buffelsdrift se hoofkwartier met verskeie uitkykpunte langs die roete.
Die eerste skof van die fietsren begin Maandag in die middel van Oudtshoorn in Baron van Reedestraat voor die Queen’s Hotel en CP Nel Museum. Dit is die eerste keer dat dié fietsren in die dorp begin.
Henco Rademeyer van Dryland Event Management, wat die Cape Pioneer Trek organiseer en aanbied, nooi toeskouers na Maandagoggend se wegspring om 07:30. Paul Walstar, die kommentator, sal toeskouers op hoogte hou van wat aangaan.
Die grootste verandering aan die wedren is egter volgende Saterdag wanneer die fietsren op dieselfde plek in Baron van Reede gaan eindig en inwoners sal kan deel in die opwinding by die eindpunt! Met die gedeelte van Baron van Reedestraat tussen St John- en Vredestraat wat van 05:00 tot 18:00 gesluit sal wees, gaan die omgewing in ’n feestelike terrein omskep word. ’n Groot Bedoeïen-tent gaan op die grasperk langs die CP Nel Museum op die hoek van Baron van Reedestraat en Voortrekkerweg opgeslaan word waar deelnemers na voltooiing van die uitmergende wedren kan ontspan.
Verversings vir die publiek sal te koop aangebied word.
Met al die restaurante aan weerskante van die betrokke gedeelte van Baron van Reedestraat sal toeskouers ook van daar af die aktiwiteite by die eindstreep kan dophou.
Paul Walster sal weer daar wees en oor ’n sterk luidsprekerstelsel toeskouers op hoogte hou van hoe die laaste skof verloop en interessante inligting oor die fietsryers te vertel hê.
• Oudtshoorniete kan trots daarop wees om ’n internasionale multiskofbergfietsren van die gehalte van die Cape Pioneer Trek uit eie geledere aan te bied. Dryland Event Management, met Rademeyer, Carel Herholdt en Bernard le Roux aan die roer van sake, bied die wedren aan. Hulle het oor die afgelope jare tientalle Oudtshoorniete tydens die ren betrek en ’n goed geoliede span opgebou.
Dryland se benadering is ook om baie in plaaslike gemeenskappe en veral skole terug te ploeg.
Heelwat Oudtshoorniete neem aan die fietsren deel. Meer daaroor volgende week.