
Tot siens, mooiste Klein Karoo! Melissa Wilken (18) van Oudtshoorn ontspan verlede week vir oulaas tuis saam met haar ouers, Petra en Marius, en haar broer, Matthew, voordat sy na die VSA vertrek het om daar te gaan studeer.
Deur Liesel le Roux
’N JONG Oudtshoorniet, Melissa Wilken (18), moes verlede week Oudtshoorn en die Klein Karoo groet nadat sy ’n beurs by ’n universiteit in die VSA losgeslaan het.
Melissa, wat einde verlede jaar matriek aan York High School in George met onderskeidings in Afrikaans en Engels voltooi het, is nou ’n student aan die James Madison Universiteit in Harrisonburg, Virginië, VSA. Sy gaan vir die volgende paar jaar kinesiologie (bewegingswetenskap) aan dié universiteit studeer.
En sy gaan hokkie speel!
Melissa het dié beurs losgeslaan op grond van haar talle prestasies op die hokkieveld dwarsdeur haar skoolloopbaan. Om die waarheid te sê word Melissa se lewenspaadjie van jongs af bepaal deur hokkie, wat haar groot passie is.
Sy het by Laerskool Van Reede verlief geraak op dié spel, vertel Melissa. Toe sy hoërskool toe moes gaan, was dit vir haar ononderhandelbaar dat sy na ’n skool toe wil gaan met ’n “astroturf”-baan. In daardie stadium was York die enigste skool in die omgewing met so ’n baan en is sy daarheen.
Melissa het in graad 10 reeds hokkie gespeel vir die Suid-Kaap-vrouespan en het verlede jaar die groot prestasie behaal om in haar graad 12-jaar gekies te word vir die Oos-Kaapse o.21-span. Hier het haar paaie gekruis met dié van Dayna Barlow. Barlow was betrokke by ’n werwingsprogram van die National Collegiate Scouting Association (NCSA) in die VSA, wat sportpresteerders vir universiteitstudie werf waar hulle ook blootstelling kry aan sportprogramme en topafrigters.
Nadat Melissa ’n profiel van haarself opgestel het, is sy deur verskeie universiteite in die VSA genader. Haar keuse het op die James Madison Universiteit geval op grond van die fasiliteite daar en die feit dat hulle haar ’n volle beurs vir vier en ’n half jaar se studie aangebied het.
Melissa het op die vooraand van haar vertrek verlede Woensdag (7 Januarie) gesê hoewel dit vir haar swaar gaan wees om so ver van haar gesin af te wees, sy baie opgewonde is oor dié nuwe lewe wat vir haar voorlê.
“Alles wat ek geken het, gaan ek agterlaat, maar ek gaan nou iets studeer waardeur ek myself sal kan verbeter. My wêreld draai in elk geval in ’n groot mate om hokkie en ek gaan nou doen wat ek nog altyd wou.”