
Toppresteerder Charlie Thiry Dinsdag by sy trotse ouers, Luc en Nini. Foto: Liesel le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE Klein Karoo se topleerder in die matriekeindeksamen is die veelsydige Charlie Thiry, onder-hoofseun van die Hoërskool Oudtshoorn in 2014.
Charlie het matriek geslaag met ’n gemiddelde persentasie van 93.9% en onderskeidings in al agt sy vakke – Engels huistaal (84%), Afrikaans eerste addisionele taal (93%), wiskunde (97%), rekeningkunde (97%), rekenaartoepassingstegnologie (97%), lewenswetenskappe (94%), fisiese wetenskappe (95%) en lewensoriëntering (91%).
Dié uitblinker is op 17 nie net ’n jaar jonger as die meeste van sy klasmaats nie, maar praat ook vier tale vlot en het beslis in sy matriekjaar nie net agter die boeke gesit nie.
Hy is lief vir sport en het SWD-kleure vir atletiek gekry, vir sy skool se eerste span hokkie gespeel en was kaptein van die eerste tennisspan. Hy vertel voorts dat hy dit geniet om gimnasium toe te gaan, te lees en saam met vriende en familie kuier.
Charlie se pa, Luc, is ’n meganiese ingenieur en sy ma, Nini, ’n mediese dokter. Dié gesin het in verskeie lande oor die wêreld gewoon voordat hulle besluit het om hulle op Oudtshoorn te vestig.
Charlie is in België gebore. Twee weke na sy geboorte is hy saam met sy ouers na Kameroen waar hulle gewerk het. Hierna het hulle in Egipte, België en Nigerië gewoon en aan die begin van Charlie se graad 7-jaar na Suid-Afrika verhuis. Aan die begin van sy graad 10-jaar het hulle hul op Oudtshoorn kom vestig toe Luc en Nini besluit het om af te tree.
“Ons het hierheen gekom oor die weer, die mense, die ligging, die kos en die besienswaardighede van die omgewing,” vertel Charlie.
Oor al die tale wat hy magtig is, vertel hy: “Frans was my eerste taal totdat ek in graad 4 in Engels begin skoolgaan het. Ek het Nederlands by die huis gepraat voordat ons na Suid-Afrika getrek het wat dit vir my maklik gemaak het om Afrikaans te leer.”
Charlie se Afrikaans is op so ’n hoë vlak dat hy in 2014 vyfde in die Wes-Kaap was in die nasionale Afrikaanse olimpiade!
Sy kop staan nou na die Universiteit van Kaapstad toe waar hy medies gaan studeer.
Hy is baie dankbaar teenoor sy skool, sê Charlie.“Ek wil ons skoolhoof, al die onderwysers en personeel van die Hoërskool Oudtshoorn bedank vir nie net die uitstaande werk wat hulle doen nie, maar ook die uitstaande ondersteuning dwarsdeur matriek. n Groot dankie ook aan al my vriende en die klas van 2014 wat dit die beste jaar van hoërskool gemaak het en my herinner het dat punte nie alles is nie.”