Deur Schalk le Roux
DIE Oudtshoorn munisipaliteit moet onder administrasie geplaas word.
Dit is die standpunt van die DA op Oudtshoorn sowel as die standpunt van die DA in die Wes-Kaap, het dr Ivan Meyer, hoof van Oudtshoorn se DA-kiesafdelingsbestuur, gister onomwonde op Oudtshoorn verklaar.
“Enigeen wat iets anders sê, praat nié die waarheid nie!”
Volgens Meyer is Suid-Afrika ’n regstaat, maar is daar mense in Oudtshoorn se munisipale raad en die munisipaliteit wat die dorpsake bedryf asof hulle in ’n magstaat woon.
“Hulle steur hulle nie aan die beginsels van ons land se Grondwet en die demokrasie nie. Hulle het nie ’n saak met munisipale wetgewing nie en doen ook nie verantwoording aan die gemeenskap wat hulle veronderstel is om te dien nie,” het hy gesê.
Volgens Meyer gee onder andere Pravin Gordham, nasionale minister verantwoordelik vir plaaslike be-stuur, en sy departement (Cogta), die Wes-Kaapse parlement en die Nasionale raad van Provinsies (NCOP), aandag aan die DA van Oudtshoorn se aansoek om Oudtshoorn onder administrasie te plaas.
Meyer het beklemtoon dat daar ’n verrassing op die skuldiges in die raad en munisipaliteit asook ander betrokkenes wag. “Hulle gaan gedagvaar word om voor Scopa (Staande Komitee op Openbare Rekeninge) te getuig. ’n Persoon wat goed oor die Oudtshoorn munisipaleit ingelig is, het reeds in Desember op Albertinia voor Scopa getuig.”
Meyer sê as iemand gedagvaar word om voor Scopa te getuig en hy daag nie op nie, kan hy/sy in hegtenis geneem word en in die tronk beland.
Hy het enigeen wat bewus is van wanadministrasie, korrupsie en bedrog deur raadslede of munisipale amptenare genooi om voor Scopa te kom getuig en ook om name te verskaf van enigeen wat inligting het oor wanadministrasie en ander oortredings by die munisipaliteit.
Op grond van getuienis wat Scopa aanhoor, stel dit ’n verslag op wat aan die Wes-Kaapse parlement voorgelê word. In die verslag word gepaste aanbevelings gemaak oor stappe wat gedoen kan word, soos onder meer kriminele vervolging. Die parlement moet dan daaroor besluit.
Om voor Scopa te getuig kan Masizole Mnqasela, voorsitter van die Staande Komitee oor Plaaslike Bestuur, by tel 021 487 1848 gekontak word. Hy kan ook per e-pos gekontak word by mmnqasela@wcpp.gov.za.
Met verwysing na die verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid, het Meyer gesê die verslag is steeds relevant aangesien dit onder meer administrasie van die Oudtshoorn muni- sipaliteit voorstel. “Weens die feit dat die verslag egter 17 maande in pres Zuma se kantoor gelê het, is dit deels ’n geval van Justice delayed is justice denied, omdat van die betrokkenes nie meer by die munisipaliteit is nie, getuies se geheues oor tyd vervaag en daar tyd was vir oortreders om hul wandade te verdoesel.”
↧
‘Administrasie is nog op die kaarte’
↧