Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Moet riool eers in strate vloei?

$
0
0

Deur schalk le roux

MOET Oudtshoorn eers werklik in die duister sit, riool in die dorp se strate afloop, waterprobleme kritieke afmetings aanneem en daar ’n totale verval van dienslewering wees voordat die dorp se munisipaliteit onder administrasie geplaas word? Dit is soos Die Hoorn die standpunt van Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike bestuur, verstaan.

Daar is nie net die SOE-verslag, die onwettige begroting, die Kango Grotte-debakel, die onwettige

munisipale bestuurder, die skaamtelose burgemeester en oorweldigende bewerings en getuienis

van wanadministrasie en korrupsie nie.

Op Maandag, 15 September, verlede jaar het dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse DA-leier en kiesafdelingshoof

vir Oudtshoorn, tydens ’n optog na die munisipale kantore namens die DA van Oudtshoorn geëis dat die munisipaliteit van die dorp onder admini strasie geplaas word. Hy het dié eis sedertdien al verskeie kere herhaal en onomwonde verklaar dat die DA in die Wes-Kaap ten gunste van administrasie vir  Oudtshoorn is.

Op Vrydag, 20 Februarie, het mnr Pravin Gordhan, nasionale minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ’n onaangekondigde besoek aan Oudtshoorn gebring waartydens hy eers met Oudtshoorniete op straat gesels het en daarna tydens ’n informele vergadering met verteenwoordigers van verskeie rolspelers gesels het. Hy het gesê dit was opvallend hoe eenparig almal met wie hy  gepraat het ten gunste daarvan was dat Oudts hoorn onder administrasie geplaas moet word. Daar kan geen twyfel wees dat Gordhan en sy departement besef dit is in Oudtshoorn se belang dat daar by die munisipaliteit ingegryp moet word nie.

Die ANC se Wes-Kaapse leier, Marius Fransman, het ook vandeesweek vir Gordhan gevra om “drasties” op Oudtshoorn in te gryp. “As dit beteken dat die munisipale raad ontbind moet word, is dit reg so. Ten minste kan ’n administrateur aangestel word en burgemeester Gordon April herroep word,” het Fransman gesê.

Intussen het selfs die ACDP gevra dat die dorp onder administrasie geplaas word. As die Wes-Kaapse ANC- en DA-leiers almal ten gunste van administrasie is, is die oplossing eenvoudig. As jul opreg is in jul oproepe tot administrasie, versoek in belang van die Groter Oudtshoorn die dorp se DA-en ANC-raadslede om ’n gesamentlike brief op te stel en te onderteken waarin Bredell en Gordhan gevra word om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.

Wat van deurslaggewende belang sal wees as die dorp onder administrasie geplaas word, is dat ’n behoorlike herstelplan in plek gekry word en bekwame, kundige administrateurs, wat nie politiek speel nie, aangestel word om die herstelplan te implementeer. Dit sal net billik wees dat die raad wat ná 2016 se algemene munisipale verkiesing op Oudtshoorn die bewind oorneem, ’n administrasie erf wat nie meer aan flarde is nie.

• James-Brent Styan, woordvoerder van Bredell, se reaksie op bogemelde skrywe is: “U kommentaar rakende min Bredell se standpunt is nie min Bredell se standpunt nie, maar is u standpunt en u eie mening. “U is meermale verwys na ’n hofuitspraak rakende administrasie en die prosedures daar rondom. Min Bredell glo dit is relevant en verwys u weer daarna. “Ter herhinnering, administrasie is te alle tye ’n laaste uitweg vir enige munisipaliteit. Dit word onder meer so deur die howe interpreteer.”


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444