![John van Reenen]()
John van Reenen
Deur Marlene Malan
OP sy dag was hy een van die wêreld se bekendste veldatlete – die lang, forsgeboude man wat ’n skare laat stil word het wanneer hy die een rekord na die ander in die stof laat byt het; een daarvan, in 1975, die diskuswêreldrekord van 68,48 meter.
Vandag, op 67 en tot sowat ’n jaar gelede blakend gesond, avontuurlustig en onafhanklik, word groot John van Reenen skielik gedwing om op ander mense staat te maak.
Die regtervoet waarop hy so ferm vasgetrap het vir diskusgooi en gewigstoot, wat hom gehelp het om internasionale sportstatus te bereik, het hy verloor nadat ’n operasie om infeksie uit sy voet te sny, skeefgeloop het. Dit het gebeur nadat hy in ’n stok getrap en ’n seer ontstaan het wat nie wou herstel nie. Die seerplek is uitgesny, maar – volgens Van Reenen – is hy as diabeet nie korrek behandel nie.
’n Nuwe medikus het die skokaankondiging gedoen: Verloor óf jou voet, óf jou lewe. Want gangreen het al in daardie stadium ingetree en sy niere was beskadig.
“Eers is net my voet en daarna ’n deel van my been, tot so 5 cm onder my knie, afgesit.”
Van Reenen sê die eis van R4 miljoen wat hy teen die eerste behandelingspan – die hospitaal, internis en chirurg – ingestel het, is nie ’n maklike pad nie. “Maar regsmening wat ek ingewin het, was postief – ek hét ’n sterk saak.”
Want sy hele leefstyl moes verander: Die toekoms wat hy vir homself voorgestel het, bestaan nie eens meer in sy verbeelding nie. In sy geliefde woonomgewing in die berge buite De Rust kan hy nie meer vrylik rondloop nie, hy kan nie meer net in sy bakkie spring en die ruwe bergterrein rondom sy huis verken of in die veld saam met sy hond gaan stap nie.
Hy is gekluister aan ’n rolstol. Om doodgewone take en pligte uit te voer en ’n onafhanklike lewe te lei, is vir goed verby. Tafels en rakke en stoele waarbo hy voorheen uitgetoring het, is deesdae skouerhoogte.
Een van die grootste nadele is dat Van Reenen, ’n beeldende kunstenaar en voorheen kunsdosent aan onder meer die Universiteit Stellenbosch en Washington State University, nie meer kan staan en skilder nie. Om terug te tree vir perspektief is onmoontlik. “My skilderwerk is my ontvlugting, maar selfs dit moet ek nou anders aanpak. My hele lewe lyk anders – letterlik en figuurlik.”
Sy regsaak is een van verlies aan inkomste, pyn en lyding, sowel as die koste van toekomstige mediese behandeling weens nalatigheid. Sy mediese fonds wil nie help met ’n prostese nie, en van sy voorheen doodgewone take, pligte en genietiginge is daar nie sprake nie. Hy het ook reeds sy mooi huis in die asemrowende, bergagtige omgewing verkoop.
“Ek is nie bitter nie; net geskok. Ek probeer my bes om aan te pas en aanvaar my hele lewe is in ’n nuwe rigting gedwing. Maar ek het baie verloor en moet my hele lewe herbeplan. Dit wys jou net – die een dag is jy nog op dreef, vol toekomsplanne, maar dan, in ’n oogwink, verander alles.”