DAAR was baie pret, baie plesier en boonop uithalergeregte by Die Hoorn se Buitelugkos-kompetisie wat Saterdag by die Oudtshoorn Aeroklub plaasgevind het.
![Die wenners van Saterdag se Buitelugkos-kompetisie was die Hazenjacht Boerdery-span van Elsabé Greeff (tweede van regs) en Johan de Villiers (derde van regs). By hulle van links is Niel Els (beoordelaar), Anton le Roux (bemarker by Die Hoorn en organiseerder van die kompetisie), Erna “Helen Zille” Schnautz en Jaco Matthee (beoordelaar).]()
Die wenners van Saterdag se Buitelugkos-kompetisie was die Hazenjacht Boerdery-span van Elsabé Greeff (tweede
van regs) en Johan de Villiers (derde van regs). By hulle van links is Niel Els (beoordelaar), Anton le Roux (bemarker
by Die Hoorn en organiseerder van die kompetisie), Erna “Helen Zille” Schnautz en Jaco Matthee (beoordelaar).
Die kompetisie tussen die onderskeie spanne was voorwaar straf en die Oudtshoorniete het gewys dat hulle weet hoe om in die buitelug oor ’n vuur kos te maak.
Die wenspan was die span van Hazenjacht Boerdery wat bestaan het uit Elsabé Greeff en Johan de Villiers.
Hulle het ook die prys gewen vir die beste voorgereg.
Hul wengeregte was eerstens ’n voorgereg van murgbene, skaapribbetjie, roosterkoek en groenvye.
Die hoofgereg het bestaan uit ’n ontbeende skaapboud gestop met spinasie, knoffel, spek en feta- en bloukaas wat op die spit gebraai is en bedien is saam met patats wat in foelie op die vuur gaargemaak is, ’n gemengde groentegereg wat op die vuur gemaak is en ’n groenslaai.
“Dit was ’n heerlike dag,” het Greeff ná die tyd gesê. “Dit was goed vir die gees om weg te kom van die huis na ’n ander plek en om met ander en nuwe mense te kuier wat jy nie aldag sien nie.”
Die naaswenners was die B Co-span bestaande uit Belinda du Plessis en Corné Coetzee.
Hulle het ’n beesstertpotjie voorberei saam met ’n Marokkaanse gemmerpatatgereg met Amarula-sous.
Vir dié besonderse bygereg het hulle ook die prys gewen vir die beste bygereg van die dag.
Die wenner van die derde prys was die Klokkedore!
Dié span van Johan Kriegler (Kraggies) en Dawie Smit het ’n heel Karoopersielamsblad met groente en port in ’n swartpot op die vuur gaargemaak.
Hulle het ook gesorg vir iets soet met ’n telefoonpoeding wat op die vuur gebak is.
Die span met die beste spangees was die Oudtshoorn Grassnyers van Elmine Coetzee en Vasti Greeff.
Die span met die beste “gadgets” was die span van Piet Badenhorst en André du Plessis, terwyl die span van Frik Pieterse die prys gewen het vir die beste musiek met die konsertina en kitaar wat hulle laat saamgesels het.
Tydens die geskerts van die dag is verskeie deelnemers en besoekers wat effens op bekendes trek, die dag herdoop en het hulle later onder groot gelag help pryse uitdeel. Onder hulle was Erna “Helen Zille” Schnautz, André “Willie Nelson” du Plessis, Gerbrandt “Danny de Vito” van Deventer en Jacques “Keanu Reeves” Conradie.
• Elke span wat aan die kompetisie deelgeneem het, is huis toe met ’n wonderlik prys danksy die volgende vrygewige borge:
De Krans, CP Nel Motors, Trentyre, Kango Volstruisplaas, Swartberg Hotel, Cecil Badenhorst, Supa Quick, The Showroom, Joubert Tradauw, Wieldokter, Highgate Volstruisplaas, Slabber & Slabbert, Lugro Ostrich, Klein Karoo International, Turnberry Boutique Hotel, Eagle Falls Country Lodge, Village Art Galery, Landmark, Santa Fé Spur en Wilgewandel.