Deur Higgo Jacobs
Groot opgewondenheid heers op Oudtshoorn oor vanjaar se Eden Straatmylreeks wat op Woensdag, 16 Desember, vanaf 10:00 in Baron van Reedestraat aangebied word en wat vanjaar nog groter as verlede jaar gaan wees.
Die tweede been vind op Saterdag, 19 Desember, in George met die steun van die NMMU (George Kampus) by Saasveld plaas en die derde been, bekend as Die Burger/-ATKV-straatmyl, op Woensdag, 23 Desember, in Paardekraalweg in Hartenbos.
Die prysgeld vir die reeks, onder beskerming van ASWD, beloop R65000. Die mans en vrouewenners ontvang R4000 elk, die naaswenners R2000 elk. Vir die 3de plek is daar R1 000 op die spel. Die grand prix-wenner (mans en vroue) ontvang ’n verdere R4 000.
Volgens Hans van der Veen, bekende sportman en atletiekafrigter van Oudtshoorn, word daar vanjaar veel meer inskrywings vir die eerste been op Oudtshoorn as verlede jaar se 150 verwag.
Die eerste Oudtshoorn straatmyl is in 2009 in Parkweg aangebied, maar die organiseerders het besluit om dit te skuif na ’n plek waar dit groter sigbaarheid sal geniet.
Van Suid-Afrika se topatlete en atletiekklubs het reeds aangedui hulle gaan deelneem. Verlede jaar se wenner, Johan Cronjé, en Dumisane Hlaselo, wat vroeër vanjaar aan die Wêreldkampioenskap in China deelgeneem het, gaan vanjaar probeer om weer ’n droomstraatmyl te hardloop. Plaaslik sal die oë op Etienne Plaatjies gerig wees. Hy is verlede jaar net-net deur Cronje geklop. Ander atlete om dop te hou, is Mariano Eesou, Sibusiso Nadikizela en Zolani Ngqaqa (NMMU). Carin Viljoen het ook gesê sy kom haar titel verdedig, maar kan sterk teenstand van Thineke Fourie verwag.
Volgens Van der Veen kom van Suid-Afrika se topklubs met hul beste atlete deelneem. Van hulle kom ook oefenkampe vir hul atlete hier aanbied. Klubs en name wat genoem word, is Kovsies, NWU Puk, Endurocad van Elana Meyer, Jacques Jansen van Rensburg en Karen Zimmerman. Na verwagting gaan oud-Springbok Johan Fourie van Stellenbosch se atlete ook by die straatmyl verwag.
Die ouderdomsgroepe waarin die straatmyl aangebied word, is junior seuns en meisies gebore ná 1 Januarie 2001, junior vroue / ope vroue / 40+ vroue, junior mans / ope mans / 40+ mans.
Vir meer inligting, besoek gerus www.edenmiles.co.za of EdenStreetMileSeries op Facebook.
↧
Meer atlete by straatmyl
↧