
Jacobus Titus van Bridgton, Oudtshoorn saam met van die talle kinders in die buurt wat saans rondom sy Kersliggie-huis speel. Foto: Stefan Skapie Goosen
Deur Stefan Skapie Goosen
DAAR is ’n huis in Malgasstraat, Colridge Uitsig, Oudtshoorn wat almal elke jaar tydens die Kerstyd laat glimlag, en dit is die huis van Jacobus Titus (63) en sy vrou Katriena.
Titus hang al vir die afgelope twaalf jaar Kersliggies aan en rondom sy huis wat ’n groot skare mense uit die gemeenskap en van elders af lok.
“Ek het elf jaar gelede ’n Kersfees in die Kaap spandeer en dit is waar ek die eerste keer huise wat so met liggies versier is, gesien het. Dit het my asem weggeslaan en ek het dadelik daar met een van die huiseienaars begin gesels,” sê Titus.
Titus vertel hoe hy op daardie selfde oomblik sy eerste klomp liggies aangekoop het. Hy was die eerste ou in sy omgewing wat sy huis so versier het. Dessdae hang Titus tussen R6 000 en R7 000 se liggies in Kerstyd rondom sy huis op!
“Ek wou dit net as iets vir die gemeenskap doen, veral die kinders. Selfs vir die toeriste daar was al allerhande mense van allerhande rasse wat hier by my saamgekom het om na die liggies te kyk. En natuurlik vir my eie plesier, ” sê Titus.
Titus probeer ook elke jaar klein geskenkpakkies vir kinders in die gemeenskap gee tydens hierdie tydperk. Hy doen dit gewoonlik met geld uit sy eie sak. “Hierdie jaar het ek darem ’n skenking van Dorkas Nasorg in 14de Laan gekry dit gaan my baie help,” sê Titus.
Dit neem Titus twee weke om die liggies op te hang én hy is nog nie klaar gehang nie! Hy beplan nog baie meer liggies. Titus gebruik sy ervaring as bouer om te help met die hangery.
“My pa is lief vir wat hy doen. Sy aksie het my ook geraak en nuwe krag en hoop vir die toekoms gegee,” sê Titus se seun, David-Kearny. Volgens hom is daar baie mense wat kom kyk na wat sy pa elke jaar doen.
“Toe ek die een aand op die stoep sit, het ek trots begin raak toe ek sien hoe mense om my huis kom vergader,” sê Titus oor sy eie ervaring van die huis vol liggies.
Titus skakel sy liggies elke aand tussen 20:00 en 23:00 aan en verwelkom enige persoon om te kom kyk.