
’n Gedeelte van die Mandrax-tablette waarop beslag gelê is. Foto: Verskaf
Deur Liesel le Roux
’N 26-JARIGE vrou van Oudtshoorn het verlede Vrydag in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn op aanklag van die handel in dwelms nadat 1008 Mandrax-tablette Donderdagaand in ’n voertuig op die pad tussen Oudtshoorn en George gevind is. Die voertuig was na Oudtshoorn op pad.
Die waarde van die Mandrax is nagenoeg R60480.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het lede van die Attaqua K9-eenheid (die honde-eenheid) omstreeks 21:00 ’n verdagte voertuig opgemerk.
Dit is met die hulp van lede van die voertuig-diefstaltak deursoek. Tydens die soektog is die Mandrax-tablette gevind is.
Visser sê die dwelms was waarskynlik vir Oudtshoorn bestem. Die verdagte woon op Oudtshoorn.
• In ’n ander dwelmverwante voorval is die saak teen ’n 27-jarige inwoner van Oudtshoorn wat op 18 November in die omgewing van Camp Roadhouse in hegtenis geneem is nadat die dwelm tik in sy besit gevind is, verlede Vrydag (8 Januarie) in die Oudtshoorn Distrikshof na 29 Januarie uitgestel.
Landdros Lorraine Samuels het die saak uitgestel nadat die beskuldigde, Tiaan Pienaar, se regsverteenwoordiger afskrifte van die dossier aangevra het.
Pienaar het in die hof verskyn na aanleiding van dié voorval in verband met twee ander dwelmverwante sake – een vir die besit van dwelms en die ander vir handeldryf in dwelms.