Deur Liesel le Roux
DIE name van die kandidate wat op Woensdag, 7 Augustus, aan drie tussenverkiesings op Oudtshoorn deelneem, is Maandagoggend deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bekend gemaak.
Dit bring ’n einde aan weke se bespiegeling oor watter partye kandidate sou stel en watter onafhanklike kandidate sou staan.
Daar was ook tot met die registrasiedatum groot onsekerheid oor die ANC se kandidate nadat die party na verneem word verskeie bekende inwoners genader het in hul soektog na geskikte kandidate.
Drie politieke partye, die ANC, die DA en die South African Progressive Civic Organisation (SAPCO), het kandidate in al drie wyke gestel.
Twee onafhanklike kandidate tree in wyke 5 en 13 tot die stryd toe.
Twee van die raadslede wat op 31 Mei van die ANC na die DA oorgeloop het, sal as DA-kandidate die tussenverkiesing beveg.
Hulle is is mnr Hendrik Ruiters wat in Wyk 5 staan en mnr Jurie Harmse in Wyk 13.
Die tussenverkiesing vind juis plaas omdat die ANC-raadslede vir Wyke 5, 6 en 13 saam met twee proporsionele ANC-raadslede op 31 Mei besluit het om die party te verlaat en hulle by die DA te skaar.
Die kandidate in die onderskeie wyke is: Wyk 5: me Sonja Biljohn (ANC), mnr Hendrik Ruiters (DA), me Hessie Maxim (Sapco) en past Manuel Forbes (onafhanklik).
Wyk 6: me Veronica Williams (ANC), me Christine Muller (DA) en mnr Clive Veldsman (Sapco).
Wyk 13: me Susara Amsterdam (ANC), mnr Jurie Harmse (DA), me Imelda Goliath (Sapco) en mnr Dean Claassen (onafhanklik).