DRINGENDE instandhoudingswerk aan paaie in groot dele van Wesbank, Oudtshoorn-Noord en Oudtshoorn-Suid het Maandag begin.
Oudtshoorn se burgemeester, mnr Gordon April, het verlede week ’n projek geloods waar slaggate in dié dele aandag sal ontvang.
April het die projek bekend gemaak toe hy werkers besoek het by die groot slaggat in Baron van Reedestraat naby die kruising met Victoriastraat.
Volgens April is twee van die ouer gebiede in Oudtshoorn geïdentifiseer waar die ou asbeswaterpype gereeld bars en die padoppervlak beskadig. Dié pype is tussen 30 en 40 jaar oud.
Die een gebied word omgrens deur Parkweg-Noord, Noordstraat, Condorstraat en Voortrekkerweg, terwyl die ander gebied omgrens word deur Voortrekkerweg, Parkweg-Suid, Rademeyerweg en Jonesstraat.
Die meeste klagtes deur inwoners oor slaggate in paaie word volgens hom uit dié twee gebiede ontvang.
April het aangedui dat ander dele van die dorp later aandag sal ontvang.
Hy het beklemtoon dat die huidige projek slegs instandhouding aan paaie behels en nie die herstel van die paaie nie.