OUDTSHOORN is een van drie Suid-Afrikaanse dorpe wat na bewering die slagoffers was van BTW-bedrog van sowat R16 miljoen.
Twee mense het verlede Dinsdag (4 Oktober) in die George Landdroshof verskyn op aanklag van dié bedrog. Hulle is die sekretaris van die ANC in die Suid-Kaap, Mzwanele (Major) Sokope (42), en ’n vrou van Port Elizabeth, Ndileka Mfunda (49).
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle verskeie plaaslike munisipaliteite en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) tussen 2009 en 2011 bedrieg het.
Sokopo en Mfunda is in September deur die Valke se handelsmisdaadeenheid aangekeer na ’n lang interne ondersoek.
Daar word beweer ’n belastingmaatskappy van die twee is deur die betrokke munisipaliteite gekontrakteer om hul by te staan met die verhaling van onopgeëiste BTW en dat hulle in ruil ruimskoots vergoed is vir elke suksesvolle verhaling.
Na bewering het die ondersoek getoon dat syfers onder meer opgeblaas of herhaaldelik gestuur is.
Die twee verdagtes is nie gevra om te pleit nie. Die saak teen hulle is tot 24 November uitgestel.
Faez Jacobs, Wes-Kaapse sekretaris van die ANC, het gesê die party het kennis geneem van die ernstige klagtes van oortreding van die BTW- en belastingadministrasiewet.
“In hierdie geval is die klagtes teen ’n streeksleier van die ANC ernstig en sal die organisasie die hofverrigtinge met aandag volg. Soos ons verstaan, ontken Sokopo die klagtes wat met ’n privaatbesigheid van hom verband hou.”
↧
BTW-bedrog van R16 milj raak ook Oudtshoorn
↧