Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Wesbank kry nuwe skoolhoof in nuwe jaar

$
0
0
Die nuwe skoolhoof van Laerskool Wesbank, Waldo Cloete, sy vrou, Marina, en hul kinders, Nina en Stefan. Foto: Verskaf

Die nuwe skoolhoof van Laerskool Wesbank, Waldo Cloete, sy vrou, Marina, en hul kinders, Nina en Stefan. Foto: Verskaf

DIE Laerskool Wesbank op Oudtshoorn se nuwe skoolhoof wat die leisels op 1 Januarie 2017 by die skool oorneem, is Waldo Cloete, adjunkhoof van die Laerskool Brackenfell.
Cloete volg vir Alewyn Hanekom op wat na 23 jaar as skoolhoof by die Laerskool Wesbank einde 2016 aftree. Hy gee met groot liefde en vertroue die leisels oor aan ’n dinamiese jong onderwysleier soos Cloete, het Hanekom vandeesweek gesê.
Cloete sê op sy beurt hy sien uit om met sy gesin na Oudtshoorn te trek omdat Laerskool Wesbank se goeie naam hom vooruit loop in die stad se onderwyskringe.
“Ek het reeds in 2005 die skool besoek en was veral beïndruk met die wyse waarop moderne tegnologie in die klaskamer gebruik word. Ek sal graag verder hierop wil voortbou,” sê hy.
Hy sê voorts dat hy self heelwat onderwysidees het wat hy graag by die Laerskool Wesbank sal wil implementeer, sonder om van die bestaande hoë standaarde af te wyk.
Cloete het aan Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch gematrikuleer en sy onderwysdiploma aan die  Wellington Onderwyskollege voltooi met wiskunde as hoofvak. Hy het  daarna ’n graad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.  Sy onderwysloopbaan het in 2000 aan die Primêre Seunskool in die Paarl begin. Daarna is hy bevorder tot departementshoof by die  Laerskool Welgemoed en sedert 2013 is hy adjunkhoof van Laerskool Brackenfell.
Cloete is goed onderleg in rekenaartegnologie en gebruik daagliks die interaktiewe witbord in die klaskamer. Op sportgebied het hy in verskeie sport­soorte uitgeblink. Hy het vir Maties en Boland rugby gespeel en was ook keurder en afrigter van die Westelike Provinsie se o.13-Akademiespan.
Cloete is getroud met Marina wat 16 jaar ondervinding as opvoeder in die Grondslagfase het. Sy het skoolgehou by die Hoër Meisieskool se voorbereidingskool in die Paarl en is  die afgelope jare onderwyser by die DurbanvilleVoorbereidingskool. Sy is aangestel as Graad 1-onderwyser by Laerskool Wesbank in die plek van Adele Marais wat ook die einde van die jaar uittree. Die Cloete-egpaar het twee kinders, Stefan, tans in Graad 4, en Nina in Graad 1. (Berig deur Higgo Jacobs)


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434