Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444

Klag ingedien teen onder-burgemeester

$
0
0

Deur Liesel le Roux
’N INWONER van Bongolethu, Ethel Cashile Jack, het Dinsdag ’n klag teen Oudtshoorn se onder-burgemeester, Noluthando Mwati, by die speaker van die munisipale raad asook die polisie ingedien.
In ’n brief aan die speaker, Julia le Roux Krowitz, beweer Jack dat Mwati op haar geskree het, haar gevloek het en haar teen die bors gestamp het. Die voorval het na bewering plaasgevind tydens ’n besoek van die nasionale leier van die DA, Mmusi Maimane, aan Oudtshoorn Dinsdag.
Die brief is ook aan verskeie koerante gestuur.
Le Roux Krowitz het gister op navraag van Die Hoorn gesê sy het die klag ontvang en dat die proses soos deur die wet voorgeskryf is ten opsigte van ’n klag, nou gevolg sal word.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het gesê die polisie ondersoek klagtes van aanranding  en crimen injuria.
Jack skryf in haar brief aan die speaker dat sy Dinsdag ’n byeenkoms in Eerstelaan in Bongolethu bygewoon het waar  Maimane, en die Wes-Kaapse DA-leier, Patricia de Lille, inwoners toegespreek het.
Omdat sy nie saamgestem het met “verskeie kwessies” waaroor hulle gepraat het nie, het sy haar hand opge­steek en vrae begin vra – volgens haar onder meer oor raadslede wat geld skuld aan die munisipaliteit en raadslede met kriminele rekords. Jack beweer dat Mwati nadat Maimane en De Lille vertrek het, skreeuend op haar afgestorm het en beledigings geskree het. Volgens Jack het die Mwati daarna op Afrikaans onder meer aan haar gesê: “Ek gaan jou donner. Ek sal mayor word van Oudtshoorn en jou wys.”
Jack sê sy is as “vrou, entrepreneur en lid van die Bongolethu-gemeenskap ge-grief oor dié optrede van  Mwati.”
Sy vra Le Roux Krowitz om Mwati aan te kla en te ondersoek en binne 14 dae op haar skrywe te reageer. Intussen beoog sy om regsadvies in te win oor moontlike regsoptrede.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5444