Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Slaggate laat Maimane frons

$
0
0
Die nasionale DA-leier, Mmusi Maimane, Dinsdagoggend op Oudtshoorn in gesprek met sakelui van die dorp.  Foto: Schalk le Roux

Die nasionale DA-leier, Mmusi Maimane, Dinsdagoggend op Oudtshoorn in gesprek met sakelui van die dorp.
Foto: Schalk le Roux

• Provinsie gaan help met strate, sê minister Bredell

Deur Liesel le Roux
DIE gate in Oudtshoorn se strate was een van die dinge wat die nasionale DA-leier, Mmusi Mai­mane, opgeval het toe hy Dinsdag die Groter Oudthoorn asook Dysselsdorp besoek het as deel van die eerste been van die DA se #Terugnadie mense-toer in die Wes-Kaap.
Kort nadat Maimane dié seeroogstrate van Oudtshoorn tydens ’n ontmoeting met sakelui Dinsdagoggend op die dorp uitgewys het, het die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, An­ton Bredell, by dieselfde geleentheid onderneem dat die provinsiale regering die dorp sal bystaan met die herstel van slaggate.
Maimane het Maandag en Dinsdag munisipaliteite in die Suid-Kaap besoek wat sedert die munisipale verkiesings onder DA-beheer is om kiesers te bedank en met inwoners te gesels. Behalwe Oudtshoorn het Prins Albert, George en Beaufort-Wes ook aan die beurt gekom.
Hy is vergesel deur Bredell en deur Patricia de Lille, die Wes-Kaapse DA-leier.
Maimane het tydens die ontmoeting met sakelui gesê hy besef dat Oudtshoorn voor uitdagings staan en het die voorkoms van die dorp se strate en die groot finansiële skuld waarin die vorige bestuur die munisipaliteit gedompel het, uitgesonder. Hy het die munisipaliteit aangemoedig om geleenthede in toerisme te ontgin ter wille van werkskepping en groei.
Bredell het op sy beurt in reaksie gesê die Valke is besig met die forensiese ondersoek wat by die Oudtshoorn Munisipaliteit gedoen is, maar dat inligting daaroor nog nie bekend gemaak kan word nie; klaarblyklik oor die sensitiwiteit van inligting.
“ ’n Vorige forensiese verslag ’n paar jaar tevore is gelek en dit het uiteindelik daartoe gelei dat vervolgings nie suksesvol was nie,” het Bredell gesê.
Volgens hom het die Valke reeds sowat “100 bankrekenings gesluit” en dui hul ondersoek reeds daarop dat verskeie mense in die hof vervolg sal word.
Gideon Badenhorst, voorsitter van die Oudts­hoorn Besigheidskamer, het ’n beroep op die nuwe DA-raad gedoen om met sakelui van die dorp saam te werk. Hy het gesê die Besigheidskamer, Klein Karoo Agri en die Oudtshoorn en De Rust Toe­rismeburo kan nie Oudtshoorn ’n beter plek maak as die plaaslike regering hulle nie betrek nie. “Moet ons nie net vir geld vra voor ’n verkiesing nie. Ons wil betrokke raak, ons wil saamwerk,” het hy gesê.
Die DA se Wes-Kaapse leier, Patricia de Lille, en Bredell het hierop onderneem om in November wanneer hulle weer in die streek is, met sakeui te vergader.
• Maimane het ook met inwoners vergader met besoeke aan Eerstelaan in Bongolethu en aan Dysselsdorp.
Na verneem word het ’n groepie ANC-onder­steuners in Bongolethu  hul ontevredenheid oor die DA se dienslewering en bestuur teenoor Maimane en De Lille te kenne gegee, en moes van Maimane se lyfwagte in ’n stadium ingryp en mense verwyder.
’n Inwoner van Bongolethu, Ethel Jack, het voorts na dié byeenkoms die speaker, Julia le Roux Krowitz, per e-pos versoek om die onder-burgemeester, Noluthando Mwati, te ondersoek omdat sy na bewering Jack by die vergadering beledig en teen die bors geslaan het.

Hy dink elke dag aan Oudtshoorn, het Maimane sakelui Dinsdagoggend met ’n glimlag vertel. Volgens Maimane het hy by sy vorige besoek aan Oudtshoorn ’n volstruisleeromslag vir sy iPad as geskenk gekry en sien hy dit elke keer as hy sy iPad gebruik.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434