• Burgemeester maak inisiatiewe bekend
Deur Liesel le Roux
’N ADVIESKOMITEE gaan saamgestel word om die burgemeester van die Groter Oudtshoorn by te staan om ’n ekonomiese ontwikkelingsprogram te ondersoek wat kan lei tot werkskepping in die dorp.
Dit was een van twee inisiatiewe wat Colan Sylvester, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, gister by die maandelikse raadsvergadering bekend gemaak het.
Sylvester het voorts bekend gemaak dat internskappe in die munisipaliteit vir jong gegradueerdes van die Groter Oudtshoorn binnekort geadverteer sal word.
Meer inligting oor die inisiatiewe sal mettertyd bekend gemaak word.
Sylvester het ook bekend gemaak dat die onderhoude vir die aanstelling van ’n munisipale bestuurder vir die munisipaliteit die afgelope Maandag afgehandel is.
Dié pos is na die onlangse munisipale verkiesings geadverteer nadat dit etlike jare vakant was en die munisipaliteit slegs ’n waarnemende munisipale bestuurder gehad het.