
Myrtle Billy kon die week weer glimlag terwyl klein Lashay gapend poseer vir ’n foto. Foto: Stefan Skapie Goosen
Deur Stefan Skapie Goosen
DIE ontvoering van ’n baba van twee maande verlede Donderdag by die Toekomsrus Kliniek het skokgolwe deur die hele Oudtshoorn gestuur, maar gelukkig was klein Lashay Billy dieselfde aand weer veilig terug in haar ma se arms.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n 22-jarige vrou in hegtenis geneem in verband met Lashay se ontvoer-ing. Die vrou het reeds in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op ’n klag van menseroof. Die saak is uitgestel na 9 November vir ’n formele borgaansoek.
Lashay is volgens Visser omstreeks 21:00 Donderdagaand ongedeerd in ’n huis in 22ste Laan, Bongolethu gevind. Sy het die oggend verdwyn terwyl haar ma, Myrtle, met ’n ander kind by die kliniek was toe sy iemand gevra het om ’n oog oor haar baba te hou.
Volgens Visser het die polisie op inligting van die publiek gereageer en die verdagte by haar wo-ning in hegtenis geneem met die baba by haar.
Brig Levona Januari, stasiebevelvoerder van Oudtshoorn, het die publiek geloof vir hulle bystand en die inligting wat hulle verskaf het om die polisie by te staan.
“Sonder die inligting van die publiek sou ons nie die kind kon opspoor nie,” het sy gesê.
Myrtle het die week aan Die Hoorn gesê sy is nie net verlig om haar baba terug te hê nie, maar ook baie gelukkig.
“Ek kan nie eers beskryf hoe gelukkig ek is nie! Dit gaan nou baie goed met ons. Lashay was klaar by die dokter vir ’n opvolgondersoek en sy is eenhonderd persent gesond!” het sy by haar tuiste in Palmstraat, Neppon gesê.
Volgens Myrtle moes sy die oggend haar seuntjie, Jewandré (6), na die kliniek neem.
“Ek moes met Jewandré ingaan en die vrou met wie ek gesels het langs my, het aangebied om Lashay vas te hou. Ek het ingestem, want daar was niks vreemd aan haar nie,” vertel Billy.
Aan die einde van Jewandré se ondersoek, was Lashay egter skoonveld
“Ek kon dit nie glo nie! Die vrou was net weg met my kind! Ek het gedink: wat gaan met my kind gebeur? Die gesprek tussen almal in die wagkamer voordat ek ingegaan het met my seuntjie, het juis gegaan oor mense wat babas steel vir muti en sulke goed. Ek kon net aan die ergste dink.”
Volgens Billy het sy onmiddelik die polisie laat weet, en na ’n dag wat byna soos ’n ewigheid gevoel het, is sy die aand met Lashay herenig.
“Ons hele familie was baie bly! Dit was net trane en drukkies,” sê sy.
“Al wat ek nou wil hê, is dat die vrou moet kry wat sy verdien!”
Verskeie persone het die afgelope week aan Die Hoorn gesê September het na bewering by haar vriend die indruk geskep sy is swanger.
• Garnett Wicomb berig dat die vrou wat aangekla word van menseroof vir die ontvoering van Lashay, Sinti September (22), in aanhouding sal bly tot met haar borgaansoek
September het Dinsdag vlugtig vir ’n tweede keer in ’n stampvol B-hof verskyn en die saak is deur landdros Johan Steynberg vir ’n formele borgaansoek tot volgende Woensdag, 9 November, uitgestel.