Quantcast
Channel: Die Hoorn
Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434

Baler-intrige is ontrafel

$
0
0
Albert Schoeman.

Albert Schoeman.

DIE intrige rondom die ou baler van Albert Schoeman van die ­Rietvlei/Middelplaas-omgewing wat met ’n gasvlam in stukke opgesny is terwyl hy by die Bull Run by Vosburg was, is opgelos.
Schoeman het gister vir Die Hoorn kom sê ’n vrou wat Gla­mour Pink-sigarette rook, het vir hom die Maandag nadat die berig in Die Hoorn van 20 Oktober verskyn het, gekontak en laat weet dat dit sy was wat op Vrydag, 7 Oktober, saam met twee werkers op sy plaas was om die baler vir skrootyster op te sny.
Dit was egter ’n misverstand, het die vrou aan Schoeman vertel. Sy moes eintlik ’n baler op ’n buurplaas, wat soos Schoeman se baler ook rooi en oud is, gaan oplaai en het toe per ongeluk op die verkeerde baler afgekom. Albei balers staan toevallig naby ou huise.
Volgens Schoeman het die vrou, wat by CJ’s Scrap Metal op Oudtshoorn werk, hom om verskoning gevra en het sy hom vir sy skade vergoed, nadat hulle op die vergoeding oreengekom het.
Schoeman, wat die baler nog jaarliks gebruik het, en dit juis onlangs laat diens het omdat dit baaltyd is, het die vrou bedank dat sy vorendag gekom het en eerlik met hom was.
Hy het reeds die klag van opsetlike saakbeskadiging wat deur die Polisie ondersoek is, gaan terugtrek, het Schoeman gesê.
Hy het ook Die Hoorn bedank vir die berig oor die baler wat hy meen tot die oplossing van die saak gelei het.
• Tydens ’n besoek aan CJ’s Scrap Metal om te hoor wie die betrokke vrou is, het Die Hoorn verneem dat sy in die George-hospitaal was vir behandeling.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 5434