
Die verwoeste Swartbergpas. Foto: Roeland Gabriël van Swartberg Mountain Tours.
Deur Marlene Malan
Een van Suid-Afrika se gewildste fietsuithouritte, the Swartberg100 Gran Fondo, is gekanselleer weens die uitgebreide skade aan die Swartbergpas. Die uithourit sou komende Saterdag 29 April plaasgevind het.
John Swanepoel van MTB Africa (Multi-terrain biking in Africa) en direkteur van dié ren van 164 km, het aangekondig dat die skade aan die pas dit onmoontlik maak om met hul planne voort te gaan.
Die Swartberg100, wat in Prins Albert begin en eindig, het verlede jaar die eerste keer plaasgevind, juis om met die Prins Albertse kos-en-olyffeesmark saam te val. Die feesmark, wat op die skouterrein plaasvind, gaan voort.
Verlede jaar het die uithouren op die skouterrein begin en geëindig, maar vanjaar sou die Hoërskool Swartberg se rugbyveld die begin- en eindpunt wees. Fietsryers skryf al sedert Augustus verlede jaar vir vanjaar se uithourit in.
“Ek het baie ander opsies oorweeg, maar die roete, wat Meiringspoort en die Swartbergpas insluit, kan nie vervang word nie.”
Volgens Swanepoel het hy besef die skade wat deur flitsvloed van 9 April aangerig is, is so groot dat dit onmoontlik is om die pad voor einde vandeesmaand te herstel.
Die 164 km bestaan uit drie gruisgedeeltes van 71 km, met die finale fase van die uithouren die kronkel-gruispad van Swartbergpas – ’n afstand van sowat 28 km. Swanepoel noem die Swartberg100 “een van die moeilikste Gran Fondo’s ter wêreld. Ons het ’n roete geskep wat gelykstaande is aan dié vir fietsrenne van vroeër jare, toe alle bergpasse gruispad was en dapper fietsryers hulle aangepak het op enkelspoedfietse wat omtrent 16 kg swaar was.” “Gran Fondo” is die Italiaans vir “Big Ride” en is ’n algemene term in die fietsrybedryf.
Volgens hom bied die Swartberg100 ’n mengsel van die jongste kennis van oefening en tegnologie, “teen ’n ou vyand – dit is ‘n padoppervlak wat nie altyd baie vriendelik is nie”.
Die Swartbergpas is presies ’n jaar gelede teen altesame R4 miljoen opgeknap, omdat die pad so kwaai uitgetrap was. Alles dui daarop dat dit maande lank gesluit gaan wees om dit volledig te herstel.
The post Gewilde fietsuithourit sneuwel na skade aan die Swartbergpas appeared first on DieHoorn.