
Jeanne, Carel en Margaux Nel met die CAPPA-trofee vir beste port in die land. Foto verskaf
Prestasies met Kaaps-Portugese rooi wyne danksy wynmaker Margaux
DIE Boplaas Cape Tawny, ’n keldermeerstersversnit van die heel beste vate Cape Tawny port, het die Kaapse Portprodusentevereniging (CAPPA) se trofee vir die beste port in Suid-Afrika gewen, die vierde keer in vyf jaar. Die port is ook deur CAPPA bekroon as die beste in sy klas.
Boplaas se Cape Ruby en Boplaas Cape Vintage Reserve 2006 is ook beide aangewys as die beste in hul klas, laasgenoemde in die Museum-klas (10 jaar en ouer). Die Cape Vintage Reserve 2013 het goud losgeslaan in die Cape Vintage-klas.
Boplaas het ook in die kategorie vir tafelwyne gemaak van Portugese kultivars uitgeblink met ses wyne onder die top 10.
Die sameroeper van die CAPPA-paneel, Christine Rudman (CWM), het gesê die paneel was baie beïndruk met die gehalte van die wyne wat hulle beoordeel het.
Sy self was veral beïndruk deur die Tawny- en Vintage-klasse asook die verbetering in tafelwyne van Portugese kultivars.
Die wenport, die Boplaas Cape Tawny, is ’n versnit van die beste vate Cape Tawny-port wat vir minstens 15 jaar in vate verouder is.
Dit is in beperkte hoeveelhede bekend gestel en is slegs by die landgoed se proelokaal beskikbaar.
Boplaas se wyne het die laaste tyd ook ander prestasies behaal.
• Die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2015 is aangewys as die beste Suid-Afrikaanse port by die Old Mutual Trophy Wine Show. Hierdie port spog net ’n uitstaande rekord en was ook die Suid-Afrikaanse kampioenport by die SA Jongwynskou en is aangewys as die beste port in Suid-Afrika by die Top 100-wynskou met ’n platinum dubbelgoue medalje.
• In nog ’n onlangse prestasie het die Boplaas Heritage Muscadel 2014 ’n goue medalje verower by vanjaar se Muscadel Challenge.
Dit is gemaak van volryp Muscat de Frontignan-druiwe wat met die hand uitgesoek en by 30°C gepluk is in ’n 35-jaaroue wingerd wat slegs ses ton per hektaar lewer.
Die Boplaas Heritage Muscadel is een van slegs vier wit muskadel-wyne wat goue toekennings losgeslaan het by dié kompetisie.
• Die suksesse van Boplaas met sy Kaaps-Portugese rooiwyne die afgelope 10 jaar kan in groot mate toe-geskryf word aan die rol wat wynmaker Margaux Nel speel.
Margaux het tydens die verkryiging van haar meestersgraad in wynkunde gespesiali-seer in die gebruik van Touriga Nacional in die produksie van rooi tafelwyne en Cape Port.
The post Boplaas ryg wenner-trofees in appeared first on DieHoorn.